Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Wie is “hulle” wat die lappop weggegooi het?
Beeld opdragteks: Anchen Coetzee.

Wie is “hulle” wat die lappop weggegooi het?

Ek is die “hulle”, en jy is die “hulle”, want ons is (after all) net mens en net lus.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

🔴 Lees ook:

Old-school finds meet new-age vibes at Swartland Auctioneers
Sometimes the smartest buy isn’t the newest gadget, but the timeless one waiting on an auction floor.

Wanneer ’n skottelgoedwasser, yskas, ketel of broodrooster breek, kort ná die waarborg verstryk het, en verál as dit nie die eerste maal is wat hierdie klas van ding met jou gebeur nie - dan kan ‘n mens mos nie anders as om te dink dat daar ‘n slang in die gras is nie. Hierdie joernalis het dit beslis so ervaar, veral nadat verskeie huishoudelike toestelle tussen ’n paar weke en ’n paar maande ná hul waarborge verstryk het ingegee het. Ná die derde geval was dit moeilik om dit as blote toeval af te maak.

Dit het aanleiding gegee tot nadere ondersoek.

Met die eerste oogopslag klink die idee, dat produkte ontwerp word om te faal, oordrewe. ’n Onlangse gesprek het egter konteks gebied. Ek het met iemand gepraat wat ’n ingenieur ontmoet het wie se werk dit is om vervaardigers te help bepaal hoe lank ’n produk behoort te hou en watter mate van mislukking aanvaarbaar is.

Volgens dié ingenieur se beskrywing gaan dit nie oor doelbewuste breek nie, maar oor berekende lewensduur. Die oorvertelling het die morele tweestryd uitgelig waarin hierdie ingenieur homself bevind. (agge-shamepies-om-van-jou-probleempie-te-hoor-wenkbrou-omhoog-emoji 🤨)

Die meeste produkte word ontwerp om net lank genoeg te hou om aan verwagtinge te voldoen.

Daardie gesprek, wenkbrou-emoji ten spyt, het bevestig wat baie verbruikers vermoed, en ander wéét, rakende planned obsolescence, maar dit is nie wat my – met my flenter skottelgoedwasser – op hierdie oomblik krap waar dit nie jeuk nie. Soos met menig irritasies is dié ook seker ‘n mors van kosbare energie. Dis soos die mensies wat sit en kla op Facebook – daai mensies wat altyd die vinger wys na die sogenaamde “hulle”, maar dit bereik net mooi niks, want “hulle” kry nooit die boodskap nie. Besides, min weet wie “hulle” dan nou eintlik is.

Wat die afgelope vyf dekades die meeste verander het is nie ingenieursvernuf nie, maar die ontploffing van keuse. Mense wat rondom die middel 1900s gebore is, het in ’n veel eenvoudiger verbruikerswêreld grootgeword. Indien ’n huishouding so bevoorreg was om ‘n toestel te kon aanskaf, was daar een, en hoogs onwaarskynlik, maar moontlik, twee of drie opsies beskikbaar. Produkte was duur, skaars en bedoel om lank te hou.

Baie huishoudings gebruik vandag nog toestelle uit daardie tyd, nie net as erfstukke nie, maar ook as werkende hulpmiddels – my huis inkluis. Dit is nie net nostalgie nie. Dit is die onwrikbare bewys van hierdie planned obsolescence, en alles het te doen met die een enkele knoop in die tou: keuse.

Daar is hopeloos té veel van alles en die konstante keuses vreet ons energie meer as wat ons dalk besef.

Vandag staan verbruikers voor duisende opsies, voortdurende opgraderings en strawwe prysmededinging. In so ’n mark speel duursaamheid selde ’n rol in bemarking. Prys, beskikbaarheid en voorkoms doen, want wie wil nou agter in die lyn staan? Veral wanneer die dopamine hit van koop-koop-se-bek-is-oop jou in sy wurggreep het.

Nie net is lewensduur ondergeskik in ’n wêreld wat op vinnige omset fokus nie, maar die omgewingsgevolge is oral sigbaar. Gebreekte toestelle word daagliks weggegooi. Dikwels is hulle nie onherstelbaar nie, maar herstel is onprakties of duurder as vervanging. Om nuut te koop het die norm geword en intussen sit ons, soos die lappop, op hierdie ashoop van ons eie maaksel, maar ons kinnebakke is nog net-net sigbaar.

Een praktiese manier om hierteen weerstand te bied, is om te wag voordat iets nuut gekoop word. Voor ’n winkel besoek word, kan mense eerder by veilings, tweedehandse handelaars, aanlyn-platforms of antiekwinkels gaan kyk. Baie ouer huishoudelike items is met duursaamheid in gedagte gemaak en is vandag nog bruikbaar. Selfs al hou dit nie langer as ’n moderne produk nie, is dit dikwels goedkoper en vermy dit die omgewingskoste van nuwe vervaardiging.

Dieselfde beginsel geld vir klere. Oormatige keuse en kort lewensduur het ook hier die norm geword. Tweedehandse aankope verminder afval en bevraagteken die idee dat nuut altyd beter is.

In ’n tyd waar outomatisering en kunsmatige intelligensie, of AI soos alombekend, werke voor die voet hervorm, moet daar dalk met nuwe oë gekyk word na dié wat herstelvaardighede het. Die hersteller, tegnikus en selfdoen-kenner vul ’n ruimte wat masjiene nog nie oorgeneem het nie, en om herstel bo vervanging te kies, verminder nie net afval nie, maar ondersteun ook die vaardighede van kleiner besighede wat steeds hul lewensbrood so verdien.

Aan die einde van die dag het eindelose keuse ’n prys en hierdie prys is besig om elke aspek van ons lewens te verswelg – fisies en geestelik.

So sê ek, die morele kwieen wat ongeveer ‘n dekade laas (behalwe vir undies en skoene) ‘n sent spandeer het op nuwe klere, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

En so sê ek, die hypocrite, terwyl die nuwe skottelgoedwasser meer as ‘n maand reeds lê in my shopping cart, want geld het ek nie nou nie, maar herstelwerk gaan my amper-amper dieselfde hoeveelheid uit die sak jaag.

Ek is die “hulle”, en jy is die “hulle”.

Ons is die “hulle” wat die lappoppe wydsbeen maak sit op Atlas se skouers, want ons is (after all) net mens en net lus.

En die ingenieur met sy morele tweestryd? (agge-shamepies-om-van-jou-probleempie-te-hoor-wenkbrou-omhoog-emoji 🤨)

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More