“Dag vader”: Jy is in my (geboorte)pad, maar ek... ja ek is manhaftig!
Wanneer mens so bang is dat jy wil lam word van vrees, moenie gaan lê in traksie nie. Sorg dat jy op die pad bly... en hou jou manhaftig, want hierdie is ook jóú geboortegrond!

Vrees is 'n terrible, terrible ding. Hy kan so klein wees soos 'n mosterdsaad wanneer hy gebore word, maar teen die tyd wat mens sy sake vir, en namens, hom gewerk het, is hy so groot soos ’n eks se nuwe lewe op Facebook.
My eerste onthou van vrees, was die vrees dat ek nooit eendag sou grootword nie. Ek het soveel gehad om te sê en soveel emosies wat moes uit, maar ek is gebore in 1970, en die meeste van die kere was bek-oopmaak taboe. “Kinders word gesien en nie gehoor nie,” en die slag wat ek wel my lippe geklap het in rebellie of teenkanting, het my gat gebrand. Dit het my nie gestuit nie, want ek is manhaftig.
Baie mense sê hulle is nie spyt omdat hulle gatte so gebrand het nie. Ek dink baie mense lieg. Daar was nie een so ‘n geneukery wat my goed gedoen het nie. Dit was totaal onnodig dat ons so gefoeter is. Gelukkig loop die ondeundheid dik deur my are en vandag, na al daardie onnodige houe, sal ek 'n leeu bloots ry as dit beteken dat my individualiteit nie doodgesmoor word nie. My merk sal ek laat. In vrees se donker kake sal ek heel moontlik myself be-A, maar ek sal nie weghol nie. Ek kom after all uit 'n lang bloedlyn van sterk Neethling-Rossouw vrouens...
So loop my tannie Netta (Jeanetta) eendag in Nuy se plaaspad af. Die jaar is ongeveer, min of meer 1944/45. Haar ma, my ouma Anna Neethling, het haar gestuur na buurmense op die plaas om 'n ding te gaan wegbring. Toe sy haar weer kom kry, kom hy van voor af gestap. Die swart gewaad op pote. Sy weet van hom, want teen die tyd dat sy hom daar op die pad raakloop, het die grootmense die kleintjies al so bang gemaak vir die gewaad-draende vlettermouse, dat sy skoon senuweemaag is oor die man.
Hy is 'n priester (of 'n ding), maar of dit nou Rooms Katoliek of net Katoliek of net plein Rooms is, sou sy nie kon sê nie. Julle moet verstaan, in ‘n tyd waar my oupa skoene se punte moes oopknip vir toeless, en my ouma moes goiingsak-panties naai - in ‘n tyd wat selfs ‘n enkele vetkryt of ‘n nickerball ‘n wonderlike kleinnood was - ‘n tyd wat familie nog bloed was en daar nie konstant dorp toe geflerrie kon word nie, was iets met die naam priester, en dit nogals op jou geboortegrondpad, ‘n absolute enigma van moerske proporsies.
Nou die priester het altyd vir die plaasvolk gaan preek, of gaan kuier, of beide. In ieder geval, daar stap sy. Vyf of ses en doodbenoud. Teruggaan kan sy nie, want ma sou dit nie duld nie, en as sy moes kies tussen ma en die vlermuis, was daar eintlik geen keuse nie. Rooikappie moes verby die wolf, weghol was nie ‘n opsie nie. Hy kom van voor af en sy is op pad na waar hy vandaan kom - en almal weet dat wanneer jy 'n pad stap met ene wat van voor af kom, is dit onvermydelik....
Somewhere langs die draad gaan julle bymekaar moet verby. Al meer kant toe beur tannie Netta, soos 'n ding wat haarself uit lit uit geskrik het. Sy is later amper bo-op daai draad soos 'n touloper. Sy sien die draad, sy voel die draad, sy word een met die draad, maar sy weet ook, verder as die draad kan sy nie. En priester kom aan...
Sekondes voor sy haar broek bevuil, is dit toe ook so. Hulle moet bymekaar verby en daar slaan die Neethling-Rossouw gene toe hard en duidelik deur.
Selfs toe sy oog tot oog voor die kake van die donker vrees te staan kom, maak sy die eerste move. Met 'n vyfjarige stemmietjie, wat maar aan die dunnerige kant is, is al wat sy kan uitkry: 'Dag vader'.
Of die 'vader' haar ooit geantwoord het, sal ons sekerlik nie weet nie. Die feit bly staan, sy het die move gemaak... en dis die enigste manier om jou vrese te oorkom.
Wanneer mens so bang is dat jy wil lam word van vrees, moenie gaan lê in traksie nie. Sorg dat jy op die pad bly. Dit traak nie 'n flenter of jy undercover, loopmaag op hom afgesluip, en of jy boldly voor hom indruk nie, wat wel saakmaak, is dat jy vrees face wanneer die tyd aanbreek, in daai oomblik wat hy hier met sy swart vlermuis-mantel op jou pad moet verby. Sou jy hom ignoreer, gaan daar weer 'n dag kom wat die hele prentjie homself afspeel en die vrees gaan erger wees, want tussen nou en dan, het jy jouself al so opgewerk dat jou koppie naby uithaak draai.
Face daai ding, al is dit met 'n hoë, benoude stemmietjie. En al is dit dan ook net met 'n 'Dag vader'...

My tannie Netta is nou al 87-jaar jonk en ek weet van min wat soveel lewe in hulle het, of so pragtig is, even op 57. Sy is die matriarg van ons clan en die enigste oorblywende van haar generasie. In vrees se kake moes sy al baie staar, maar sy het op die pad gebly - een voet voor die ander. Ek stuur die storie weer aan haar 'n paar dae terug en hier is hoe ons gesprek verloop het:
[21:22, 4/6/2026] Tannie Netta: “Mos nou weer lekker gelag vir die ou storie, maar glo my, daardie dag het ek nie gelag nie. My "dag vader" het meer soos 'n huilkreet geklink as iets anders. Dit was ook jare der jare gelede, maar ek kan nog daardie vrees in my binneste voel as ek daaraan dink,”
Annie: En wat sal tannie vir die vader sê, sou tannie hom vandag raakloop?
Tannie Netta: Ek weet regtig nie. As ek hom alleen op ‘n pad teëkom, sal ek maar nog skrikkerig wees, maar my baie manhaftig hou.”
Die meeste van ons is tans op ‘n Nuy-grondpad, met een of meer vlettermouse wat aankom, sommiges kom selfs van agter en is dikwels al bo-op op ons haakskene. Moenie gaan staan nie, sit een voet voor die ander, bly in beweging. En wees dankbaar, selfs vir ‘n goiingsak-pantie en ‘n toeless, want dis daai small mercies wat jou voetsole beskerm en ‘n briekmerk kan vang.
En hou jou manhaftig, want hierdie is (ook) jóú geboortegrond!
ᴳʳᵒᵉᵗᵉ,
ᴬⁿⁿᶦᵉ ⱽᵃⁿⁿᶦᵉ ᴷᵃᵃᵖ.
