Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Nicholis Louw op ’n Laeveld-verhoog en almal is welkom by die party!

Nicholis Louw op ’n Laeveld-verhoog en almal is welkom by die party!

In klubs en op verhoë, het Nicholis Louw se stem oorgevat. Van die Laeveld tot in Agtertang in die Karoo. Die gegil was die ergste - en ek en Lodia was voorgillers van die eerste water - ons bekkies het geklap 'soes' nat wasgoed saam met elke woord.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

(𝘕𝘦𝘦𝘮 𝘬𝘦𝘯𝘯𝘪𝘴, 𝘴𝘶𝘣𝘳𝘦𝘥𝘢𝘬𝘵𝘦𝘶𝘳𝘴: 𝘮𝘰𝘦𝘯𝘪𝘦 𝘩𝘪𝘦𝘳 𝘭𝘦𝘦𝘴 𝘯𝘪𝘦, 𝘸𝘢𝘯𝘵 𝘫𝘰𝘶 𝘱𝘦𝘯 𝘴𝘢𝘭 𝘰𝘱𝘥𝘳𝘰𝘰𝘨!)

📞 066 327 1068bookings@oppidam.co.za 🌐 https://www.oppidam.co.za/

Kyk, ek kan hierdie artikel een van ’n paar kante toe skryf, maar dis nou die Laeveld, en die opkomende gebeurtenis is in die Laeveld, so dis presies waar ek die ankers gaan lig, uit Nelspruit se gisters, daar waar ek was tydens daai jare toe Nicholis Louw die SA pop-rock scene behoorlik laat bewe het in die 2000s.

Hoekom sal ek nou iets skryf wat soos ’n montone PR-stuk klink, wanneer dit my eie persoonlike geskrywery en onthou is? Veral wanneer ek weet daar’s ’n hele klomp ander daar buite wie se onthou skouers skuur met myne, want as jy daar was… dan wéét jy.

Die jaar was 2003 en ek was 33 en by die koerant in Nelspruit. Stables (a.k.a. St Ables), soos baie in die Laeveld weet, was dié plek om te wees oor naweke, en vir my, en my vriendin-en-kollega Lodia, was dit nie anders nie. Of dit nou Mandoza se 2000 treffer Nkalakatha was, of Dozi se Maybe my baby, of ons tienertyd se 80s songs, ons kon move en jive in daai Stalle hoor! En toe, toe bars alle note uit hul nate met Ek wil my baby hê vanaand van ’n nuwe gesig in Afrikaanse pop-rock. Sy naam was Nicholis Louw, en in my huis was sy musiek gespeel sonder-end.

Daai “nuwe gesig” sou natuurlik nie lank nuut bly nie. Sedert sy deurbraak in die vroeë 2000’s het Nicholis homself gevestig as een van Afrikaans se grootste gunstelinge, met meer as twee dekades in die bedryf, meer as 650 000 albumverkope en ’n hele string Goue, Platinum en Dubbel Platinum albums, asook SAMA-, Huisgenoot Tempo- en Ghoema-toekennings.

In 2006, met die koms van sy DVD Rock daai Lyfie, kon ek nie vinnig genoeg by Riverside Mall uitkom vir die koop hiervan nie - en as ek reg onthou was Ghapi ook deel van die lekkerte. Hoeveel beter kan dinge dan nou raak op 'n musiek-DVD? Vandag, op 56, het ek steeds daai DVD, so deurgespeel dat ek dit nie sal waag om dit in 'n CD-ROM in te druk nie, maar die nostalgie is groot wanneer ek dit elke dan-en-wan sien in een van die kratte in die motorhuis. Ek gooi dit nie weg nie, want al was daar by die 18 jaar laas ’n televisie of DVD-speler in my huis, move en jive ek steeds vir ‘n wen en ‘n plek, en sal seker forevermore, want, Ons sal (en wil mos) jonk bly!

In klubs en rave-plekke en op verhoë, was dit die jare waar Nicholis Louw se stem oorgevat het. Dit was ‘n aardigheid om te aanskou, want almal en almal se maat het behoorlik uitgehaal en gewys wanneer die eerste noot val op ‘n oor - van die Laeveld tot in Agtertang in die Karoo. Die gegil was die ergste - en ek en Lodia was voorgillers van die eerste water - ons bekkies het geklap soes nat wasgoed saam met elke woord. 

Die naam Nicholis Louw sou nooit weer sommer net ’n naam wees nie, maar sou in SA musiekgeskiedenis vir ewig opgeteken word as ’n ikoon. Treffers soos Rock daai LyfieGeneraal, Net die een vir my (Maia Hee)Coco Pops en KaasEk wil my baby hê vanaand en Welkom by my party het oor die jare deel geword van die Afrikaanse musiekkultuur, en is vandag nog net so bekend.

Wat mense gou sou agterkom is dat Nicholis se repertoire, wat basies in Afrikaans is, nie net pop-rock insluit nie, maar dat sy veelsydigheid wye arms staan rondom alles van country en ballades, en dat dit dikwels sterk klassieke elemente inkorporeer. Min sangers kan boonop Purple Rain van die nimlike Prince deeglik sing, of die koning van rock, Elvis, se musiek laat lewe, maar selfs hierdie supertreffers dra Nicholis Louw só goed oor dat dit mens se binnekant laat huil van mooi - en dit sê alles van die man se stem, en van wat hy met ’n song kan doen.

Later, met die koms van die supergroep 4Werke hier in 2011 rond, wat bestaan het uit Nicholis Louw, Ray Dylan, Elizma Theron en MoniQue, was almal weer op horings, en die lekkerte het net nie end gekry nie. Die groep het selfs hul eie goue albums opgelewer met liedjies soos Kyk diep in my oë en Roete na jou hart wat oral gespeel het.

In 2006 het ek die geleentheid gekry om ’n onderhoud met hom te voer vir Time Out Teen Magazine. Dit was dubbelblad centrespread, en natuurlik was hy ook op die voorblad daardie maand. Ek het die hele proses terdeë geniet, want dis nie elke dag dat mens so ’n sexy, besige ou kon vaskeer vir gesels nie.

Nicholis verras vandag steeds aanhangers met nuwe, vars musiek, met vrystellings soos RadioOents Oents OentsOns sal jonk bly en die meer emosionele Die Pad, wat ’n ander kant van hom wys, maar steeds daai selfde energie dra wat gehore al vir jare ken.

Iets lekkers om na uit te sien: Daar is nog nuwe songs van Nicholis Louw op pad, met die eerste vrystelling wat om die draai lê en beplan word vir hierdie einste Vrydag, 27 Maart.

Met sy aansteeklike verhoogpersoonlikheid wat almal laat voel hulle is deel van die partytjie, is Nicholis Louw nie net ’n kunstenaar nie maar ’n feesgunsteling regoor Suid-Afrika, en vir die Laevelders is daar nou die geleentheid om hierdie ikoon van Afrikaanse pop-rock self te sien wanneer hy op 3 Oktober op die verhoog klim by die OppiDam Musiekfees 2026.

Dus, as jy ooit in Stables gerock het, en sy musiek gevoel het onder jou voete, (of sommer net tuis so op jou eis), en as jy ooit uitbundig saam geskree het "Ek wil my baby hê vanaand!!!", dan weet jy klaar waar jy moet wees hierdie Oktober!

Maak dit ’n naweek om te onthou by OppiDam.
Bespreek vroeg en moenie uitmis nie.

📞 WhatsApp: 066 327 1068
✉ Email: bookings@oppidam.co.za
🌐 Website: https://www.oppidam.co.za/

Africa InTouch News sal lesers op hoogte hou soos nog kunstenaars bevestig word, en oor die komende maande sal ons die program bekendstel soos dit vorm aanneem.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More