Facebook gee tweede profiele die trekpas
Meta het Donderdag aangekondig dat hulle binnekort alle addisionele Facebook-profiele gaan verwyder. Ná 14 Desember word dié profiele en die inligting wat daarmee verband hou, permanent uitgevee.
So jy het gedink daardie tweede Facebook-profiel is veilig? Die een waar jy jou kollegas, professionele kontakte en mense wat jy eintlik glad nie ken nie, hou, ver weg van jou persoonlike lewe? Of dalk die profiel waarop jy jou stokperdjies en ander belangstellings deel? Wel, Facebook het ander planne.
Meta het Donderdag aangekondig dat hulle binnekort alle addisionele Facebook-profiele gaan verwyder. Ná 14 Desember word dié profiele en die inligting wat daarmee verband hou, permanent uitgevee. Gebruikers het dus ongeveer 'n maand om hul digitale huise leeg te dra voordat Facebook die deur sluit.
Die ironie is dat Meta self in September 2023 die moontlikheid bekendgestel het om tot vier addisionele persoonlike profiele onder een rekening te skep. Die hele idee was juis dat mense hul verskillende wêrelde van mekaar kon skei. Destyds was dit 'n slim oplossing. Nou, skaars drie jaar later, meen Meta dat dié profiele die platform onnodig ingewikkeld maak. Die maatskappy wil Facebook vereenvoudig en terugkeer na een hoofprofiel per rekening.
Vir gebruikers wat intussen jare se foto's, video's, plasings en kontakte op hul tweede profiele opgebou het, is dit natuurlik nie so eenvoudig nie.
Die verskil tussen 'n persoonlike profiel en 'n Page is iets wat baie gebruikers steeds verwar. 'n Persoonlike Facebook-profiel is jou eie ruimte op die platform. Jy stuur of aanvaar vriendskapsversoeke, deel plasings en bepaal wie jou inhoud mag sien. Dit is die profiel waarmee jy oorspronklik by Facebook aangesluit het. 'n Addisionele profiel werk baie dieselfde, maar is onder dieselfde Facebook-rekening geskep. Jy kon tussen die profiele wissel sonder om telkens met 'n ander wagwoord aan te meld. Elke profiel het sy eie vriende, plasings en nuusvoer gehad.
'n Facebook Page, daarenteen, is bedoel vir besighede, organisasies, openbare figure, kunstenaars en ander mense wat 'n openbare teenwoordigheid wil opbou. Gebruikers kan die Page volg sonder om persoonlike vriende te word. Dit is veral handig wanneer jy nie noodwendig wil hê dat elke kliënt, kollega of wildvreemde moet weet wat jy Sondagmiddag geëet het of wat jou familie oor Kersfees aangevang het nie. 'n Page kan boonop deur meer as een persoon bestuur word, wat dit geskik maak vir besighede en organisasies.
Die goeie nuus is dat Meta bevestig het dat bestaande Facebook Pages nie deur die verandering geraak word nie. Jou oorspronklike hoofprofiel bly dus veilig, maar jy kan nie jou tweede profiel sommer in 'n Page verander soos jy kon in die verlede nie. Facebook het vroeër 'n funksie gehad waarmee persoonlike profiele na Pages omgeskakel kon word, en alhoewel daar steeds ou handleidings op die internet is wat verduidelik hoe om dit te doen, kon hierdie joernalis nie bevestig kry dat dié omskakelingsfunksie nog beskikbaar is nie.
Die praktiese oplossing is om 'n nuwe Page te skep en die inhoud wat jy wil behou, self daarheen oor te dra. Dit is juis waarom die aankondiging meer as net 'n klein administratiewe ongerief is. 'n Profiel met jare se werk, gevestigde kontakte en 'n lojale gehoor is nie iets wat jy oornag vervang nie.
Die belangrikste is om nie te wag totdat Facebook jou profiel reeds verwyder het nie, maar nou reeds te begin om jou inligting af te laai. Meld by Facebook aan, skakel oor na die addisionele profiel en gaan na Settings & privacy, gevolg deur Settings. Soek onder Your information and permissions na Export your information of Download your information, afhangend van die weergawe wat Facebook vir jou wys.
Versoek 'n volledige kopie van jou beskikbare inligting, insluitend plasings, foto's, video's, boodskappe en ander inhoud wat jy wil bewaar. Kies die volle datumreeks en die hoogste beskikbare mediakwaliteit. Die voorbereiding van die aflaai kan tyd neem, daarom is dit verstandig om vroeg te begin. Maak ook seker dat jy die afgelaaide lêers kan oopmaak en dat jou belangrikste inhoud wel daarin voorkom. 'n Rugsteunkopie is immers nie veel werd as jy eers ná die sluitingsdatum ontdek dat die helfte ontbreek nie.
Indien jy Facebook-groepe vanaf jou addisionele profiel bestuur, moet jy betyds 'n ander geskikte administrateur aanstel voor dit ook in die slag bly. Jy kan jou foto's en video's aflaai, maar jy kan nie 'n gevestigde netwerk van mense na 'n nuwe Page kopieer nie. Die verstandigste plan is om, terwyl jou tweede profiel nog aktief is, jou kontakte van die verandering in kennis te stel. Skep jou nuwe Page, plaas die skakel op jou bestaande profiel en vra mense wat jou inhoud wil bly volg om na die nuwe Page oor te skuif.
Dus, as jy nog nie 'n kennisgewing gekry het nie, doen wat jy moet soos hierbo genoem en voorkom dat jy, soos ander gebruikers wat in die verlede reeds toegang tot hul profiele verloor het, belangrike inligting kwyt is wanneer Facebook finaal die deur toemaak.
Advertisements | Advertensies

Explore our publications | Ontdek ons publikasies










