Solidariteit klop vandag by Withuis aan oor Agoa
Volgens Solidariteit bied die uitnodiging van die Withuis ’n belangrike geleentheid om voorspraak te maak vir Suid-Afrikaanse werkers wie se inkomste bedreig word.
Solidariteit sal vandag dringende gesprekke met senior amptenare van die Trump-administrasie by die Withuis in Washington voer in 'n poging om Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) vir 2027 te beskerm. Die organisasie waarsku dat Suid-Afrika se moontlike uitsluiting ernstige gevolge vir plaaslike ondernemings en werksgeleenthede kan inhou.
Volgens Solidariteit vind die gesprekke plaas te midde van die verslegtende diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Verenigde State van Amerika (VSA). Die organisasie sê hy wil verhoed dat Suid-Afrikaanse werkers en ondernemings die ekonomiese prys vir die geskil betaal.
Onder volg Solidariteit se volledige verklaring:
Solidariteit na Withuis in laaste poging om Agoa te red
29 Oktober 2026
Solidariteit sal Donderdag by die Withuis in Washington ʼn laaste poging aanwend om Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) vir 2027 te probeer beskerm nadat dit die afgelope weke toenemend begin lyk het of die land uit Agoa geskop kan word. Solidariteit sal Donderdag dringende samesprekings met die Trump-administrasie by die Withuis hieroor voer. Dit vind plaas binne die konteks van die verdiepende diplomatieke krisis tussen Suid-Afrika en die VSA.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sal Donderdag 29 Oktober in die Withuis met senior amptenare gesels oor die afgelope maande se hersieningsproses vir Agoa-deelname, sowel as die gevolge van Suid-Afrika se voortgesette deelname, of die beëindiging daarvan. Solidariteit stel reeds vir maande aan die Amerikaners voor dat die beëindiging van Suid-Afrika se deelname aan Agoa nie die mees gepaste manier is om ontevredeenheid met Suid-Afrika se hantering van die diplomatieke geskil, te toon nie.
Die gesprekke by die Withuis en Amerikaanse departement van buitelandse sake Donderdag vind plaas enkele dae voor 1 November, waarskynlik die beslissende datum vir die hersiening van die lys van Sub-Sahara-Afrikalande wat in 2027 vir Agoa sal kwalifiseer. Die Withuis het die afgelope maande ʼn omvattende hersieningsproses onderneem waarvolgens alle lande in die streek, insluitend huidige begunstigdes, maar ook lande wat nie tans vir Agoa kwalifiseer nie, opnuut beoordeel is.
Volgens Solidariteit bied die uitnodiging vir gesprekvoering deur die Withuis en Amerikaanse departement van buitelandse sake ʼn belangrike geleentheid om direk voorspraak te maak vir Suid-Afrikaanse werkers wie se inkomste deur die verslegtende betrekkinge tussen die twee lande bedreig word.
“Ons gaan Withuis toe met ʼn duidelike boodskap dat Suid-Afrikaanse ondernemings, entrepreneurs en werkers nie die slagoffers van hierdie diplomatieke krisis kan word nie. Ons wil Agoa behou, werksgeleenthede beskerm en help om ʼn uitweg uit hierdie diplomatieke dooiepunt te vind,” sê Kleynhans.
Volgens Solidariteit ondersteun Suid-Afrika se uitvoere na die VSA meer as ʼn halfmiljoen plaaslike werksgeleenthede. Ongeveer die helfte daarvan is in sektore wat by Agoa se gunstige handelsvoorwaardes baat. Uitsluiting bedreig ondernemings se mededingendheid en die lewensaar van gesinne en gemeenskappe. Een so ʼn voorbeeld is Suid-Afrikaanse vroeë tafeldruiwe wat met ʼn uitsluiting van Agoa-deelname aan ʼn veel hoër invoertarief onderworpe sal wees. Amerikaanse invoerders sal dan meer rede hê om Suid-Afrikaanse druiwe met produkte uit byvoorbeeld Suid-Amerika te vervang.
Solidariteit voer reeds jare lank gesprekke in die VSA ten gunste van die verlenging van Agoa. Toe Agoa in 2025 verval het, het Solidariteit wyd steun in die Amerikaanse kongres gewerf vir ʼn langer verlenging. Die steunwerwing die afgelope paar jaar was enersyds vir die verlenging van Agoa as wet, maar ook vir Suid-Afrika se volgehoue insluiting. Solidariteit het ʼn sentrale rol gespeel in die Kongres se onlangse besluit om Agoa tot einde 2028 te verleng.
Solidariteit waarsku sedert Februarie verlede jaar dat ʼn diplomatieke geskil tussen die twee lande uiteindelik uiters nadelige ekonomiese gevolge kan inhou.
“Ons het juis vanuit ʼn posisie van patriotisme opgetree deur tot die vind van oplossings te probeer bydra. Ons kies Suid-Afrika se kant. Ons wil hê dat handel met die VSA beskerm moet word en dat ons lede en hul gesinne ʼn toekoms hier in Suid-Afrika moet hê. Dit bly egter ons standpunt dat die regering se voeteslepery met betrekking tot die diplomatieke geskil ons by hierdie Agoa-krisispunt gebring het,” sê Kleynhans.
Solidariteit doen opnuut ʼn beroep op president Ramaphosa om dringend met die organisasie in gesprek te tree en saam te werk om handelsvoordele en werksgeleenthede te beskerm.
“Ons kan nie ʼn gunstige besluit waarborg nie, maar ons kan alles in ons vermoë doen om daarvoor te veg. Dit is wat ons dan ook hierdie week weer in Washington gaan doen,” sê Kleynhans.