Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Wie speel met vuur by N2/Baden Powell se foutiewe verkeerslig?
Skermskoot van die N2/Baden Powell Drive-wisselaar by afrit 33. Beeldkrediet: Google Maps.

Wie speel met vuur by N2/Baden Powell se foutiewe verkeerslig?

Herhaalde klagtes, ’n verkeerslig wat rooi bly en motoriste se lewens op die spel. Wie dra die verantwoordelikheid by N2/Baden Powell, en waarom sloer daadwerklike optrede terwyl die gevaar voortduur?

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

KAAPSTAD, Wes-Kaap - ’n Verkeerslig by die N2/Baden Powell Drive-wisselaar, afrit 33 waar die N2 en R310 aansluit, in die rigting van Kaapstad, bly volgens inligting permanent rooi. Motoriste ry voor aankomende verkeer in om die aansluiting oor te steek, terwyl herhaalde aanmeldings steeds nie tot ’n oplossing gelei het nie.

Die wisselaar lê op die gedeelte van die N2 wat onder die South African National Roads Agency Limited (SANRAL) se jurisdiksie val.

Marelize Wessels van die Overberg-gebied, wat gereeld dié roete ry, het aan Africa InTouch News gesê sy het die fout op 29 Oktober die eerste keer aangemeld, weer op 4 November en ’n derde keer op 11 November.

“Dit is vir my baie, baie kommerwekkend, want niemand gee eintlik om nie. Waarvoor word hierdie mense aangestel en betaal as niks aan die probleem gedoen word nie? Dit is nie net hier nie. Regdeur die land meld mense probleme aan, maar niemand aanvaar verantwoordelikheid nie. Almal skuil agter die veil of secrecy en verwys die klagte na die volgende persoon. Intussen kry almal hul salarisse, maar niemand sorg dat die werk gedoen word nie,” het Wessels gesê.

Sy het ook gevra: “As iemand op daai afrit doodgaan, wie gaan verantwoordelikheid dra? Wie gaan erken dat die gevaar aangemeld is en dat hulle iets daaraan moes gedoen het? Of gaan die skuld vir daardie persoon se dood ook tussen die padowerhede, SANRAL en die Stad Kaapstad rondgeskuif word?”

Wessels was blykbaar nie die enigste persoon wat die fout aangemeld het nie. ’n Agent by die City of Cape Town (CCT) het op 12 November aan hierdie joernalis gesê dat dit reeds aan die begin van Oktober aangemeld is, en moontlik selfs vroeër.

In ’n poging om antwoorde te kry en die aangewese kontakpersoon op te spoor, het Africa InTouch News deur die loop van die oggend met meer as ’n handvol mense gepraat. Sommige oproepe het onbeantwoord gebly, maar die vinger is tog in die rigting van SANRAL gewys. Die moontlike lewensgevaar is uitdruklik onder CCT se aandag gebring en dringende hulp is gevra. Tydens die laaste oproep is onderneem om terug te bel. Teen die tyd dat hierdie artikel gepubliseer is, bykans agt uur later, was daar nog geen oproep nie.

Verkeersligte op hierdie pad het reeds op 18 Maart 2021 op CapeTalk se Breakfast with Refilwe Moloto onder die kollig gekom. Die gesprek het gehandel oor langdurige foutiewe ligte en die gesukkel om antwoorde en herstelwerk te kry.

Felicity Purchase, destyds CCT se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het tydens dié onderhoud die verkeersligte as SANRAL-bates geïdentifiseer. Sy het verduidelik dat ’n ooreenkoms nodig was om die Stad se tegnici toe te laat om die onderhoud oor te neem.

CCT het op 21 Januarie ’n voorgenome driejaarooreenkoms met SANRAL aangekondig vir die onderhoud en bestuur van 32 verkeersligbeheerde kruisings, onder meer langs die N2 tussen die R300 en R102. SANRAL sou die koste dra, maar die ooreenkoms was destyds nog onderhewig aan raadsgoedkeuring. Die huidige status daarvan en of hierdie verkeerslig daaronder val, moet nog bevestig word.

CCT se eie padnetwerkgids meld dat dit ná aanmelding binne twee uur optree om die oorsaak van ’n verkeersligfout te bepaal en om die terrein binne 12 uur veilig te maak. Dié tydperk verwys slegs na die beveiliging van die terrein en beteken nie noodwendig dat alle herstelwerk binne 12 uur voltooi moet wees nie.

SANRAL moet verduidelik of dié reaksietye ook vir sy verkeersligte geld, ingevolge enige onderhoudsooreenkoms met CCT. Indien nie, moet SANRAL sy eie voorgeskrewe reaksietye bekend maak en aandui watter veiligheidsmaatreëls sedert die eerste aanmelding by hierdie aansluiting getref is.

Waarskuwings oor foutiewe verkeersligte het reeds meer as twee dekades gelede elders in die land tot eise om dringende ingryping gelei. In Februarie 2005 het Mail & Guardian berig oor ’n prokureursbrief aan Johannesburg se owerhede waarin ’n kind se dood in Roodepoort genoem is.

Volgens die brief was die verkeerslig dae lank foutief ondanks aanmeldings aan stadsamptenare. Die prokureur het geëis dat kruisings beveilig word wanneer verkeersligte faal. Die berig het die bewerings in die brief weergegee en nie ’n hofbevinding oor aanspreeklikheid gerapporteer nie.

SANRAL, of wie ook al hiermee sloer, sal moet verduidelik waarom die fout voortduur ondanks die aanmeldings, want by N2/Baden Powell is onmiddellike, daadwerklike optrede nodig. Daar moet ook ’n verantwoordelike kontakpersoon en ’n vaste hersteltyd aan diegene wat reeds die fout aangemeld het, verskaf word, met tussentydse beveiliging indien herstelwerk nie dadelik moontlik is nie.

Indien iemand hier beseer sou word, of erger nog, sterf, sal ’n verduideliking oor onderhoudsooreenkomste of die aanstuur van klagtes geen lewe terugbring nie. Geen familie behoort met ’n geliefde se lewe vir hierdie gesloer te betaal nie.

Explore our publications | Ontdek ons publikasies

Africa InTouch News
Connecting You
De Kaap Echo
Your community. Your story.
Karoo Times
Real Karoo. Real People. Real Business.
Flip the Market
Smart. Savvy. Slightly rebellious.
The Travel Thread
Where lekker meets latitude.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More