Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Die lewe begin iewers tussen asseblief en dankie

Die lewe begin iewers tussen asseblief en dankie

Wanneer daar geen basiese begrip is vir die twee eenvoudigste woorde nie - asseblief en dankie - is jy klaar in jou peetjie in.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Daar is fout. Groot fout. Wêreldwyd.

Ek kyk na sommige van vandag se jong volwassenes en tieners en ek kry skaam, diep skaam, dat my generasie, Gen X, die generasie net ná my, die Millennials, en ook die beginkant van Gen Z, verantwoordelik was vir sommige van hierdie mense se opvoeding.

Onderrig in basiese goeie maniere en respek vir hul medemens, was duidelik nie deel van ’n groot gros van vandag se kinders, tieners en party jong volwassenes se grootword nie, tog word hierdie mense die lewe ingestuur en daar word verwag dat hulle die leiers van môre gaan word.

Wanneer daar geen basiese begrip is vir die twee eenvoudigste woorde nie - asseblief en dankie - is jy klaar in jou peetjie in. Hierdie twee woorde vorm myns insiens die hoekstene waarop alle ander goeie maniere gebou word. Dit is nie net woorde om te gebruik omdat die samelewing dit verwag nie, dit is soveel meer.

Dankie en asseblief leer jou die basiese beginsels van ordentlike kommunikasie, maar dit smaak my die mense wat dit nie gebruik nie, dink dit is ’n vorm van swakheid. Dankie en asseblief maak ’n groot gedeelte uit van emosionele volwassenheid.

Dan is daar die eenvoudige konsep van groet. Binne my is daar geen respek vir ’n mens wat iemand nie ordentlik kan groet nie, en wat ook nie die gesprek kan afsluit met ’n groet nie. Is dit deesdae die mode om die foon in iemand se oor dood te druk? Of om ’n gesprek te begin sonder ’n groet? Wanneer het hierdie neiging die norm geword? Ek sê geensins jy moet derms uitryg nie, want vir die sonder-dink "How are you" het ek ook nie tyd nie. Indien jy my vra hoe dit gaan, en jy stel werklik belang, verwag dan maar dat ek gaan uithaal en praat. "Dit gaan goed," gaan nie my antwoord wees nie, daar gaan altyd ’n string paragrawe agterna gesleep en aangelas word, want as ek jóú vra hoe dit gaan, dan vra ek dit omdat ek wil weet. Net ’n eenvoudige groet is genoeg. Net ’n erkenning van die spasie wat hierdie nuwe persoon in die vertrek inneem.

Waar het sommige van ons dan nou so verkeerd getrap om so ’n spul ongemanierde buffels groot te maak?

Ek lys hier ’n paar basiese maniere wat elke kind saam met moedersmelk moet inkry. Indien jy een van dié is wat nou al in jou 20’s of 30's is en nog nie hierdie maniere geleer het nie, maar soos ’n verskrikte ding staan en gaap wanneer ’n nuwe siel jou ruimte betree, begin vandag, asseblief, want slegs ’n mens sonder selfrespek maak homself skuldig daaraan om hierdie dinge agterweë te laat.

Basiese maniere:

• Gebruik die woorde asseblief en dankie
• Leer om hallo en totsiens te sê
• Maak oogkontak wanneer daar met jou gepraat word
• Antwoord wanneer jy aangespreek word
• Haal jou hande uit jou sakke en trek jou skouers regop
• Maak skoon waar jy gemors het.

Tafelmaniere:

• Kou met jou mond toe
• Vra om verskoon te word (jy staan nie net op nie!)

Namens my generasie, waarvan meeste se kinders al sterk op pad of al ver anderkant hul 30’s is, vra ek verskoning.

Ek vra askies tog indien jou ouers jou nie maniere geleer het nie, maar jy is nou groot genoeg en behoort dit nie meer as ’n verskoning te (mag) gebruik nie.

Wat jy kan doen, is om die foute van wie ook al reg te maak, oor te doen en ten minste vir jou kinders te leer dat om te groet, en asseblief en dankie te gebruik, dinge is wat jou nie minder maak nie, inteendeel.

Leer hulle ook sodat die volgende generasie nie die vinger na julle toe kan wys soos ek dit tans na my eie generasie wys nie!

Asseblief tog, en dankie, nè?

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More