Jou gesig is nie ’n projek wat heeltyd ge-fix moet word nie
Velsorg kos deesdae meer as wat dit werd is, en dan kry jy ’n botteltjie wat jy met ’n vergrootglas moet soek. Hierdie opiniestuk kyk onopgesmuk daarna, met ’n skeut humor. Daar’s ook ’n gesigbalsem-resep wat jou vel sal bederf sonder om jou bankrot te maak.

As daar een ding is wat ek nie net ken nie, maar waaragtig passievol oor was my lewe deur, is dit om die leë canvas, wat my gavreetjie is en wat al 56-jaar met my saam, elke dag met ‘n make-up-kwas by te kom.
Ek is versot op grimering, maar vir my het dit meer te doene met die paintery self. Insoverre dit die nagmerrie van duur produkte aanbetref - dié wat vroue regoor die wêreld hulle laaste sent voor sal uithaal, not so much.
Soos bo genoem staan ek op die drumpel van 56 (so oor twee maande van nou af), en soos menig vrou van my generasie jou sal vertel gebeur daar een van drie dinge in ons kamp.
1. Daar is die lot wat wakker lê in die nag oor elke plooi en pliets en hulself tot in bankrotskap sal werk om iets aan daai einste plietse te doen, die wat volstrek weier om happiness te vind in said plooi.
2. Dan is daar die ander wat doodeenvoudig besluit tot hier toe en geen enkele tree verder nie. Van nou af was ons die mens in die spieël se velle met blouseep en ons smeer ‘n skeut Vaselienatjie aan - if even - ons is nou klaar en op en gatvol.
3. Dan is daar die derde groep en dis nou hier waar ek heel tuis voel. Dis ons wat vir ‘n nig of ‘n vriendin ‘n foto sal stuur - ‘n allemintige lelike foto, want let's face it (pun intended), toonbeeld van Cleopatra is dit gewoonlik nie. Ons stuur dit met die byskrif: kyk hoe lyk ek vandag, soos ‘n straight up crypt keeper! En dan kry ons ‘n foto of drie terug - sommer van naby ook - van ‘n kalkoen-vel of ‘n raccoon-kring om ‘n oog.
Hierdie geheen-en-geweer is beslis nie om onsself af te kraak, soos die ou mense sou sê nie, (lately word daar na hierdie gedrag verwys as body shaming en word daar geglo dat self hierdie heen-en-weer van foudies stuur nie goed is vir jou selfbeeld nie). Snert. Dis ons bodies en vir die van ons wat so lekker kan lag hieroor is dit ‘n liefdeslag - daar is solidariteit in hierdie saamlag – en daar is lekkerte daar. Die lekkerte van weet dat, vir baie van ons, hierdie sekerlik die eerste maal in ons lewens is wat ander mede-saamlopers op hierdie aarde, ons wérklik raaksien. Daar is nie meer die perfekte gesiggie of lyfie wat vooruit gesien word soos 'n teaser onder die kop van 'n koerantstorie nie. Mense sien jou raak verby die wit-gepleisterde graf. Hulle sien jou vernuf, jou slimmigheid, jou wysheid, en ook jou onnosel-geit, wat jy geen probleem het om eerste uit te wys nie. Vir die eerste maal ooit sien hulle jou insides eerste. Die van ons in hierdie kamp hou steeds van paint en polish, maar ons het gewoonlik al geruime tyd die onderlaag en poeier neergesit, en gaan beslis nie ons energie laat vreet deur konstant te stres oor ‘n groef op ons gesig, of ‘n wang wat nou al meer ondertoe beur nie. Ons is innie mirrel.
Iewers in ‘n vorige lewe het ek seker iets reg gedoen, of miskien is dit net die DNA, nugter weet, maar ten spyte van my bittere ongesonde gewoontes my lewe deur, soos nooit, ooit spesiale rome en serums en goeters koop vir my vel nie, en ure aaneen bak in die son, het ek darem, soorvan, heel oukeierig op hierdie strand uitgespoel.
Enigeen wat my ken, van kind tot kraai, weet dat ek, behalwe vir miskien vyf maal van simpelgeit, nie ooit enige duur rome en goeters aangeskaf het nie. Dis soos naels en hare. Ek sal geen sent op dit spandeer nie. Die een ding wat ek wel koop is ‘n vegan vitamien-C olie - dis bekostigbaar, en… dis olie.
My lewe is ek deur met coconut-oil of petroleum-jellie of ander olies wat ek aan my gesig smeer. Seep, met ‘n ordentlike PH, en olies. My ma kon nie vat hieraan kry nie, want ek was maar 14 toe sy my eerste vol reeks Clinique-produkte gaan koop het by die make-up-counter in Edgars. Ma het dit in my en my sus ingedril oor hoe jy nooit rome van jou kakebene af ondertoe smeer nie, maar vanaf jou décolleté boontoe. Hoe jy altyd room aantik om jou oogvelle. Dat jy nie ooit net smeer soos ‘n ding wat ‘n skurwe hak met Vaseline bykom om in ‘n oornag-sokkie in te druk nie. Het ek geluister? Na ván dit, ja. Doen ek dit? Soms. Is ek nou nog doenig met die hele affêringte elke aand en elke oggend? Nee - en na ek uit die huis was het ek dit nog nooit gedoen nie.
Ek kan, however, nie vining genoeg uitkom by die kwas nie - die paint is waar my swakheid lê, nie dit wat daaronder aangaan nie. That being said, and being in the middle-en-all, is daar min lekkerder as wanneer jou velletjie sag en soepel onder jou vingers voel - plooie inkluis.
Hierdie is die punt waar ek gaan bs call teenoor al die skoonheidshuise en die uitbuitery van die vroue in daai eerste kamp se smagte na jeug. Dit hoef nie duisende te kos nie. Dit hoef nie eens honderde te kos om jou vel lekker te laat voel nie. Jy kan self die vetterige heerlikheid maak, sonder dat ‘n pragtige dier haar liggaam moes offer vir jou vanity, en jy het nie nodig om met jou kredietkaart en jou rug teen ‘n muur te moet vas net oorlat jy ook wil lekker voel en jou vel die beste wil gee nie.
Dink só daaraan: Jou gesig is nie ’n projek wat heeltyd gefix moet word nie. Dis deel van ’n lewe wat geleef is en geleef word, en daar is geen manier wat jy daardie stuk leer met jou die ewigheid gaan kan insleep nie. Wees mooi. Wees jou lekkerste mooi, maar onthou dat jou lewe meer werd is as enige duur belofte in ’n 15ml-botteltjie.
Neem ‘n onaansienlike foudie en stuur dit vir ‘n vriendin, sodat sy saam met jou kan lag van happiness omdat julle dit gemaak het tot hier, en gun haar die geleentheid om een of drie terug te stuur. Dis lekker en het met afkrakery niks te make nie. En dan gaan maak jy vir jou hierdie trapsel en laat weet my hoe sag jou velletjie voel en hoe lekker dit is om nie jou hardverdiende geld te moet afstaan aan ‘n skoonheidshuis wat al so lank vir jou lieg nie.
’n Annie-balsem wat jy self kan maak
Hierdie balsem smelt op die vel en is bedoel vir gemak, en voeding - nie om ouderdom weg te toor nie.
Bestanddele vir 50 ml
- 25 g ongeraffineerde sheabotter (Unrefined Shea butter)
- 12,5 ml jojoba-olie (Cold pressed jojoba oil)
- 10 ml avokado-olie (Cold pressed avocado oil)
- 2,5 ml plant based vitamien E-olie (Vitamin E Infused Into Sunflower Seed Oil)
Metode
Smelt die sheabotter stadig in ’n dubbelkoker. Haal van die hitte af en roer die ander olies by. Gooi in ’n skoon houertjie en laat dit stol. ’n Klein bietjie is genoeg vir jou gesig en nek.
Deel hierdie resep met daai einste vriendin, want jonger gaan dit jou nie maak nie, maar jou vel sal waaragtig beter lyk en lekkerder voel na dese.
Die totale koste om 50 ml van hierdie balsem te maak, beloop ongeveer R80,70.
Koste-uiteensetting vir 50 ml
- Ongeraffineerde sheabotter
R380 vir 1 kg
Gebruik: 25 g
Koste vir resep: ± R9,50
Oorblywend: ± 975 g - Cold pressed jojoba-olie
R155 vir 100 ml
Gebruik: 12,5 ml
Koste vir resep: ± R19,40
Oorblywend: ± 87,5 ml - Cold pressed avokado-olie
R199 vir 200 ml
Gebruik: 10 ml
Koste vir resep: ± R10
Oorblywend: ± 190 ml - Vitamien E-olie (in sonneblomsaadolie geïnfuseer)
R167,20 vir 10 ml
Gebruik: 2,5 ml
Koste vir resep: ± R41,80
Oorblywend: ± 7,5 ml