Makietie? Wanneer Rischmüller losbrand, sal jy ’n ander deuntjie sing!
Maak seker jy is hierdie Oktober by OppiDam Musiekfees wanneer Pieter Rischmüller behoorlik waves gaan maak op terra firma. As jy hou van musiek met byt en karakter, is hierdie een vir jou. 🎶

In die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is daar kunstenaars wat hul pad stil-stil loop, en dan is daar dié wat oor jare heen hul merk in verskillende ruimtes laat. Dis die wat nie saam met die stroom swem nie, en enigeen wat so ’n veelsydige siel wil inperk, sal net soveel regkry soos wanneer hy water see toe aanpiekel. Pieter Rischmüller val beslis in die grenslose kamp waar afdraaipaaie, verwyder van die gebaande hoofweg, so noodsaaklik is vir die siel soos asemhaal vir die lyf.
Vir baie Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers sal die naam Piet Pompies altyd ’n glimlag ontlok - daardie kenmerkende bruin bolhoed, die energie en die tong-in-die-kies verhoogpersoonlikheid. Oor die jare het Rischmüller egter gewys dat daar veel meer agter die alias skuil as net partytjietreffers en ligte vermaak.
Sy pad deur die vermaaklikheidsbedryf strek reeds oor meer as drie dekades. In 1996 het hy sy debuut as radio-aanbieder gemaak en later ook ’n profiel as sportkommentator gebou, voordat hy in 2003 saam met DJ Ossewa die musiekbedryf volstoom betree het.
As hoofsanger van hierdie dinamiese en humoristiese groep het hy vinnig gewys dat hy die verhoog moeiteloos sy eie kan maak en ’n gehoor kan lees soos ’n oop boek.
In 2014 het hy gekies om solo te gaan, nie as ’n wegbeweeg van die verlede nie, maar as ’n doelbewuste stap om sy eie musikale identiteit verder uit te bou. Sy eerste solo-album, SOLO, het dieselfde jaar verskyn, met snitte soos Briljantjie, Engeltjie en Hoop wat sy kreatiewe rigting duideliker begin afbaken het.
Wanneer ’n mens na Rischmüller se loopbaan kyk, word dit gou duidelik dat hy nie net tot die verhoog beperk is nie. Buiten sy werk as sanger en liedjieskrywer het hy hom oor die jare ook gevestig as afslaer en gewilde seremoniemeester, rolle wat sy mensevernuf in verskillende ruimtes verder onderstreep.
Musikaal het sy rigting in die afgelope paar jaar merkbaar verbreed. Terwyl vroeë werk hom plaaslik gevestig het, het snitte soos 3 Words, Cry on My Shoulder en later Anything sy skuif na ’n sterker country- en southern rock-klank bevestig.
Die internasionale reaksie op 3 Words, veral in Amerikaanse country-kringe, was een van die eerste duidelike tekens dat sy werk buite Suid-Afrika begin aanklank vind. Teen 2021 het dié momentum verder opgebou toe hy by die Afri-Indie Onafhanklike Musiektoekennings as Beste Manlike Kunstenaar aangewys is. In dieselfde jaar het hy vyf nominasies by die South African Country Music Awards ontvang en met drie toekennings weggestap.
In 2022 het Anything weer aandag getrek en onder meer Southern Rock Single van die Jaar by die Afri-Indie Awards gewen, terwyl die snit ook internasionale radiolugtyd gekry het en Amerikaanse trefferslyste gehaal het - ’n prestasie wat min plaaslike kunstenaars regkry.
Sy 2024-vrystelling Feel Good het dié trajek verder bevestig toe hy weer by die Afri-Indie-toekennings bekroon is, hierdie keer vir Beste Southern Rock Album.
OppiDam Musiekfees 2026 vind die naweek van 2 en 3 Oktober langs Vygeboomdam plaas en daar is goeie rede om dié datums op jou kalender oop te hou vir makietie. Een van daardie redes is Pieter Rischmüller wat op 3 Oktober gaan optree.
By OppiDam is hy boonop geen vreemdeling nie, maar al jare lank betrokke by die dam se geleenthede. Hy het homself as organiseerder van formaat bewys, en by hierdie musiekfees help hy om alles agter die skerms op koers te hou.
Dus, indien jy hou van kunstenaars wat gemaklik tussen genres beweeg en nie bang is om nuwe dinge aan te pak nie, is daar eintlik net een ding om te doen - maak seker jy is hierdie Oktober by OppiDam Musiekfees wanneer Pieter Rischmüller behoorlik waves gaan maak op terra firma. Dis nie net ’n optrede nie, dis iets wat jy self moet kom beleef.
Maak dit ’n naweek om te onthou by OppiDam.
Bespreek vroeg en moenie uitmis nie.
📞 WhatsApp: 066 327 1068
✉ Email: bookings@oppidam.co.za
🌐 Website: https://www.oppidam.co.za/
Africa InTouch News sal lesers op hoogte hou soos nog kunstenaars bevestig word, en oor die komende maande sal ons die program bekendstel soos dit vorm aanneem.
