Solidariteit stel “Ons sal self!”-fokus vir 2026 bekend
Onder die leuse “Ons sal self!” beklemtoon die Beweging dat hy nie op die regering wag nie, maar aktief aan eie instellings en projekte bou.
Die Solidariteit Beweging het sy Nuwejaarsboodskap vir 2026 uitgereik waarin die fokus val op selfdoen, gemeenskapsbou en kulturele outonomie. Onder die leuse “Ons sal self!” beklemtoon die Beweging dat hy nie op die regering wag nie, maar aktief aan eie instellings en projekte bou ter wille van Afrikaners se voortbestaan, terwyl samewerking met ander gemeenskappe steeds moontlik bly.
Die boodskap lig onder meer uitbreidings by Akademia en Sol-Tech uit, asook die groei van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike en studietrust-projekte. Op nasionale vlak spreek die Beweging ook kommer uit oor Suid-Afrika se binnelandse uitdagings en sy verhouding met die VSA, en sê hy wil bydra tot Suid-Afrikaanse oplossings wat ekonomiese stabiliteit en grondwetlike regte bevorder.
Lees die volledige persverklaring hieronder.
Solidariteit Beweging se Nuwejaarsboodskap vir 2026
Die Solidariteit Beweging gaan in 2026 volstoom voort met ons strategie om ʼn omvattende kulturele ekostelsel vir Afrikaners se voortbestaan uit te bou. Die kern van ons kultuur is steeds “’n Boer maak ʼn plan.”
Terselfdertyd werk ons ook landswyd aan projekte ten bate van almal in Suid-Afrika en van ander Afrikaanssprekendes. Ons wag nie vir die regering om van die land ʼn beter plek te maak nie, maar slaan self die hand aan die ploeg. Daarom is ons leuse vir 2026 “Ons sal self!” Ons sal egter ook sáám met vennote werk wat wil saamwerk aan die herbou van die land.
Die grootste projek van ons Beweging is die bou van ʼn nuwe kampus vir Akademia, die grootste onafhanklike universiteit in die land. Daarbenewens gaan ons vanjaar groot uitbreidings aan Sol-Tech, ons beroepskollege, onderneem en ook die Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike en welstandsprojekte uitbrei. Groei van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is ʼn hoë prioriteit omdat al hoe meer mense nie meer naskoolse opleiding kan bekostig nie.
Solidariteit se werksnetwerk is ook hoog op die agenda, asook AfriForum se landswye buurtwagte en aksiespanne wat dienste in dorpe en stede verbeter. AfriForum gaan sy interkulturele projekte uitbrei om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe te skakel.
Daarmee tesaam gaan Afrikaanse onderwys in ʼn nog groter mate deur ons Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun word en gaan die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (die FAK) op groter skaal voort om die Afrikaanse taal, kultuur en erfenisse te bevorder en te bewaar. Daar is ook talle ander projekte wat vanjaar aangepak gaan word om groter kulturele outonomie te bevorder.
Suid-Afrika
Die Solidariteit Beweging glo dat Suid-Afrika se uitdagings ten beste aangepak kan word as Afrikaners by die land se heropbou betrek word. Tweedens is die herstel van die verhoudinge met die VSA noodsaaklik om die land se ekonomiese uitdagings te bowe te kom. Die oplossing vir albei hierdie uitdagings is om met een stem en een boodskap met die VSA-regering te gaan praat.
Ons Beweging verteenwoordig nagenoeg 2 miljoen Afrikaners. Ons is lojaal aan Suid-Afrika, selfs al is ons ontevrede met die ANC-geleide regering. Daarom glo ons dit is nie reg as gewone burgers die prys vir die ANC se swak regering én hul vyandige optrede teenoor die VSA as supermoondheid moet betaal nie. Ons glo dat die regering Suid-Afrika se nasionale belang eerste moet stel en nie die grootse ekonomie ter wêreld ten koste van duisende mense se werk en bestaan moet vervreem nie.
SA oplossings
Ons is verbind tot Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme, en vind dit jammer dat die ANC steeds weier om Afrikaners se grondwetlike regte te respekteer en ons as gelyke burgers te behandel. Ons verlang nie na die verlede onder die Nasionale Party en apartheid nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC en hulle rassesosialisme nie.
Daarom werk ons vir ʼn ander Suid-Afrika as die een wat nou bykans orals weens die ANC se korrupsie en swak regering verval. Ons praat nie namens alle Afrikaners of Suid-Afrikaners nie, maar ons glo dat dit ten behoewe van almal is as dit beter gaan met die land.
Daarom is ons van plan om ook met ander Afrikanergroepe, sowel as die breër Afrikaanse gemeenskap en ander kultuurgemeenskappe in die land saam te werk en om saam aan oplossings vir knelpunte te werk.
Ons vind dit jammer dat die VSA strafmaatreëls teen Suid-Afrika ingestel het omdat dit derduisende onskuldige mense, waaronder baie van ons eie lede en ondersteuners, benadeel. Ons glo dat dit ook in die VSA se belang is om goeie betrekkinge met Suid-Afrika as die grootste ekonomie in Afrika te handhaaf.
Afrikaners
Die Trump-administrasie het Suid-Afrika ʼn fokuspunt van Amerikaanse buitelandse beleid gemaak en het terselfdertyd Afrikaners uitgesonder vir ondersteuning en beskerming. Die ANC-regering se verskil hiermee verander niks aan die werklikheid daarvan nie.
Suid-Afrika is ʼn onafhanklike en soewereine land en het die reg om sy eie beleid te bepaal. Die uitdaging lê daarin dat dit ernstige gevolge vir ʼn klein land se mense inhou as sy regering vyandig teenoor ʼn supermoondheid optree. Ons wil ook nie hê dat die VSA vyandig teenoor Suid-Afrika moet optree nie.
Daarom wil ons Beweging, as die grootste georganiseerde groep Afrikaners, daadwerklik help om die konflik met die VSA te ontlont. Dit sal moontlik wees indien die ANC bereid is om ons billike en grondwetlike eise vir kulturele outonomie te respekteer. ʼn Kultuurakkoord met Afrikaners kan die weg baan om die Amerikaanse regering gesamentlik te nader met ʼn handelsooreenkoms wat in belang van die land en al sy mense sal wees.
Die Afrikaner Verklaring
Dit is nodig om daarop te wys dat ʼn wyd verteenwoordigende groep Afrikaners bykans twee jaar gelede reeds ʼn hand van vriendskap en samewerking na die regering uitgesteek het, ʼn hand wat die ANC ongelukkig nie geneem het nie. Die Solidariteit Beweging was betrokke by die opstel van die Afrikaner Verklaring en is ‘n ondertekenaar van dié verklaring wat vroeg in 2024 uitgereik is.
Dit het onder meer ons verbintenis tot Suid-Afrika en ʼn aanbod om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek te help om die krisisse wat almal in die land raak, op te los. In hierdie verklaring onderskryf ons ook die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe in die land as grondslag vir ons almal se deelname aan die mensdom. Terselfdertyd het ons dit ook duidelik gestel dat ʼn rassebedeling nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg nie.
Die Afrikaner Verklaring meld ook dat ons dit betreur dat van ons volksgenote die land teen hulle sin moes verlaat omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie. Ons voel steeds dat die omstandighede eerder geskep moet word dat Afrikaners volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan bly sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan lewer.
Die ANC het ongelukkig ons hand van samewerking afgewys deur selfs onder ʼn regering van nasionale eenheid wetgewing teen Afrikaanse skole, oor onteiening en selfs skerper rassewette in te stel.
Die uitkomste van die ANC se beleidsrigtings is die beste aanduider daarvan dat ANC-beleid misluk het en selfs die teenoorgestelde uitwerking het as wat daarmee beoog is. Ons glo steeds dat restourasie die beste model is om die krisisse, soos armoede, werkloosheid en ongelykheid, wat ons land teister aan te pak, veel eerder as die transformasiemodel wat gevolg word en wat homself as deel van die probleem eerder as die oplossing bewys het.
Flip Buys | Voorsitter: Solidariteit Beweging