Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Tik is die gif wat gemeenskappe stadig verskeur

Tik is die gif wat gemeenskappe stadig verskeur

Vandag het ’n paar handelaars op hul neuse gekyk toe polisie-operasies in Grabouw en Franschhoek tot die beslaglegging van mandrax en tik gelei het, met een verdagte reeds in hegtenis.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

GRABOUW - Tik het sy liederlike merk op die Wes-Kaap gelos, want vir meer as twee dekades knaag hierdie dwelm aan gemeenskappe, breek dit gesinne en hou dit misdaad aan die gang in dorpe en stede regoor die provinsie.

Die tik-epidemie in die Wes-Kaap is al lank nie meer net ’n polisiëringsprobleem nie, maar ’n diep sosiale krisis. Die dwelm het in die vroeë 2000’s vinnig deur die provinsie se woonbuurte versprei omdat dit relatief goedkoop is, uiters verslawend en maklik versprei word. Vandag bly dit een van die dwelms waarvoor die meeste mense in die provinsie behandeling kry, met slegs dagga wat in baie rehabilitasiesentrums meer algemeen voorkom.

Die impak strek egter veel verder as net verslawing. Tik is ’n hel waarin baie mense, veral in laer inkomstegroepe, vasgevang is en dit werp ’n lang skadu oor baie dorpe. Nie net word dit verbind met stygende misdaadvlakke, huishoudelike geweld en gebroke gesinne nie, maar in vele gemeenskappe word dit ook gekoppel aan bendes en dwelmhandelnetwerke wat hele woonbuurte vasvang.

Vandag het ’n paar handelaars egter op hul neuse gekyk toe polisie-optredes in die Overberg en die Kaapse Wynlande tot die beslaglegging van honderde mandrax-tablette en tik gelei het, met een verdagte reeds in hegtenis.

In Grabouw het lede van die Caledon Openbare Orde Polisie vanoggend op inligting van inwoners gereageer oor beweerde dwelmhandel by ’n huis in die Rooidakke-gebied. Beamptes het omstreeks 09:00 by die woning opgedaag en die perseel deursoek.

Tydens die soektog is 180 mandrax-tablette binne die huis gevind. ’n 43-jarige vrou is op die toneel in hegtenis geneem op vermoede van dwelmhandel. Sy sal na verwagting in die Grabouw-landdroshof verskyn sodra die formele klagtes afgehandel is.

In ’n aparte operasie was ’n ander polisie-span in die Kaapse Wynlande besig. Lede van die Boland Openbare Orde Polisie, saam met Franschhoek Misdaadintelligensie, het ’n deursoekingslasbrief by ’n woning in Mazaleni-straat in Groendal uitgevoer.

Binne die huis het beamptes op ’n groter hoeveelheid dwelms afgekom, insluitend 816 mandrax-tablette en 49 sakkies tik, met ’n beraamde straatwaarde van R42 760.

Geen arrestasie is by die Franschhoek-adres gemaak nie aangesien die verdagte nie tydens die soektog by die huis was nie. Die dwelms is deur die polisie gekonfiskeer en die ondersoek duur voort.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More