Weet waar jou kind is, want die gevaar is teen Riviersonderend se voorstoep
Die oortuiging dat klein dorpe van nature veiliger is, stem nie ooreen met die werklikheid nie.
Die verdwyning van die 16-jarige Chandre Jonkers en haar sewe maande oue baba van Villiersdorp op 28 Maart, is weereens ‘n duidelike boodskap dat geen dorp, hoe klein of heg ook al die gemeenskap is, moet dink hulle is immuun teen die nasionale krisis van vermiste kinders nie.
Volgens Missing Children South Africa verdwyn daar elke vyf ure ‘n kind in Suid-Afrika. Alhoewel 77% van hierdie kinders uiteindelik gevind word, bly 23% steeds vermis. Sommige van hierdie kinders word slagoffers van mensehandel. Ander word dood aangetref. Baie word nooit weer gesien nie. Verskeie van hierdie gevalle het in die Wes-Kaap plaasgevind, soos met die onopgeloste verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith van Saldanhabaai.
Kyk ook: Mdntv - Joshlin Smith ‘trial within a trial’ Day 5 | 04 April 2025
Chandre is laas gesien by die Shoprite in Grabouw. Voor dit het haar pa haar gesien, voor hy werk toe is, by hul huis op Damar-plaas buite Villiersdorp. Met sy latere terugkeer, was beide Chandre en haar kind weg. Daar word vermoed dat sy moontlik na Bloemfontein gereis het, waar haar kêrel woon, maar dit is presies wat dit is: ‘n vermoede.
Hierdie, die soveelste voorval, kom op ‘n tydstip waar talle klein dorpe, insluitend Riviersonderend, ‘n toename toon in die aantal jong kinders wat sonder toesig in die strate rondloop, veral nou, tydens die skoolvakansie. In sommige gevalle is dit baie jong kinders, van laerskoolouderdom, sonder enige volwasse toesig.
Nog ‘n probleem wat hierdie situasie vererger, is die feit dat die N2-nasionale pad - ‘n belangrike roete vir vakansie- en swaar verkeer - reg deur Riviersonderend loop en die hoofstraat van die dorp vorm. Ten spyte van spoedbeperkings en padtekens, verminder baie vakansiegangers nie hul spoed wanneer hulle deur die dorp beweeg nie. Dikwels het hierdie kinders geen idee van padveiligheid nie. Om die waarheid te sê, dit wil voorkom asof dit dikwels as ‘n grap gesien word wanneer daar oor die pad gehardloop word. Hierdie roekeloosheid verhoog die risiko van ernstige beserings of selfs sterftes aansienlik. En dan is daar die ander gevaar en die eintlike vraag: Hoe maklik sal dit nie wees vir ’n boosdoener om ’n kind van Riviersonderend, wat alleen rondloop, in die oog te kry, in ’n kar te prop en sonder enige moeite uit die dorp te ry nie?
Die oortuiging dat klein dorpe van nature veiliger is, stem nie ooreen met die werklikheid nie. Suid-Afrika se statistieke oor kindergevaar is ewe toepaslik in stedelike sowel as landelike gebiede. Bloot omdat daar gemeenskapsvertroudheid is, waarborg dit nie ‘n kind se veiligheid nie.
Voogde en ouers het die verantwoordelikheid om voortdurend bewus te wees van waarheen en saam met wie hul minderjarige kinders is. Nie net om ontvoerings en verdwynings te voorkom nie, maar ook om fisieke gevaar, misbruik en uitbuiting te verminder. Toesig behoort nie opgeskort te word bloot omdat dit vakansietyd is of omdat ‘n kind in ‘n bekende omgewing in ‘n klein dorpie is nie.
Hierdie dinge gebeur sonder waarskuwing en is bitter naby aan die voorstoep van Riviersonderend.
Enige persoon met inligting wat kan help om Chandre Jonkers en haar kind op te spoor, word versoek om die ondersoekbeampte, Sersant Pietersen, te kontak by 028 840 8016, hul naaste polisiestasie te besoek, of Crime Stop te skakel by 08600 10111.
