Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Wolwekrans: 'n Wegbreek vir mense wat regtig wil afskakel

Wolwekrans: 'n Wegbreek vir mense wat regtig wil afskakel

Wanneer die daaglikse uitdagings te swaar begin raak en jy net êrens wil wees waar niemand iets van jou verwag nie, is Wolwekrans Eco Lodge ’n bergwegbreek wat jou kans gee om werklik af te skakel.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee
Daar kom ’n punt waar ’n mens nie nóg planne of nóg afleiding in die stad soek nie. Jy wil net weg wees van die geraas, die konstante verwagtinge en die aanhoudende gevoel dat jy iets móét doen. Dit is dan dat ’n plek soos Wolwekrans Eco Lodge regtig sin maak.
Wolwekrans lê hoog bo die Schoemanskloofvallei en kyk uit oor die Laeveld, met die Schoemansberge as agtergrond.

Die ligging alleen verander reeds hoe ’n mens dink. Daar is nie veel om jou aandag af te trek nie, en juis daarom raak jy meer bewus van jou omgewing, die lig, die weer en die stilte. Dis daar waar jy die waarde besef van die alombekende gesegde om “in die oomblik” te wees.

Die verblyf is ingerig vir selforg en bestaan uit chalets en safari-styl tenteenhede. Elke eenheid staan op sy eie, met ’n buiteruimte wat die landskap deel van jou verblyf maak. ’n Privaat dek, boma en braaigeriewe beteken dat gaste hul tyd buite kan deurbring sonder om deel te wees van ’n groter groep of gemeenskaplike area.

Wolwekrans funksioneer heeltemal onafhanklik van die kragverskaffers wat aan-en-af beurtkrag aankondig. Warm water word deur gas voorsien en beligting werk met sonkrag. Die kombuisgeriewe is prakties ingerig vir selforg, sodat jy op jou eie tyd kan eet wanneer jy wil, opstaan wanneer dit jou pas, en planne maak, of geen planne maak nie - net te doen wat goed is vir jou siel.

’n Besonderse toevoeging by Wolwekrans is die privaat warmbaddens (hot tubs) by elke eenheid. Dit pas in by die omgewing en is die perfekte manier om jou dag af te sluit.

Die lodge bied staproetes wat wissel van gemaklik tot meer uitdagend, en wild beweeg vrylik oor die eiendom.

Gaste sien gereeld koedoes, rietbokke, duikers, bosbokke, klipspringers, vlakvarke en jakkalse. Die spruit en omliggende bosveld lok ook ’n verskeidenheid voëlspesies, wat dit ’n aangename bestemming vir voëlliefhebbers maak.

Daar is ’n bosveldswembad en afgesonderde piekniekplekke op die perseel, alles so geplaas dat gaste hul eie ruimte kan behou. Water word uit ’n natuurlike fontein op die eiendom verkry, dis getoets en is dus veilig vir drinkwater. Toegang vereis ’n voertuig soos ’n SUV, bakkie of 4x4.

Wolwekrans Eco Lodge is ’n bestemming vir mense wat nie op soek is na vermaak of vol programme nie, maar na ruimte om asem te haal, waar niks van jou verwag word nie en rus nie beplan hoef te word nie.
Gun jouself die blaaskans.
Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More