9/11: Toe die wêreld se seer deur die eie-ek geloop het
Iets kan gebeur wat die mensdom tot stilstand ruk, maar die lewe staan nooit vir almal, op dieselfde oomblik, met dieselfde intensiteit, stil nie. Ons eie lewens was aan’t loop met 9/11, maar die ruk in ons binneste was so geweldig, dat die enorme vasgehaak het aan die alledaagse.
REDAKTEURSKOLOM
Daar kom ’n dag wanneer iets wat jy onthou asof dit gister gebeur het, vir iemand anders geskiedenis word en vir die dag van 11 September 2001 het daardie oomblik aangebreek. Dit is lankal reeds in wording, maar vandag, op die 25ste herdenking van 9/11, is daar ’n hele volwasse generasie wat geen herinnering aan dié dag van pyn het nie - soos met baie dinge in die geskiedenis. Iemand wat daardie dag gebore is, word vandag 25, en selfs mense wat vandag in hul vroeë dertigs is, ken 9/11 eerder uit beeldmateriaal as uit hul eie geheue.
Dié van ons, in watter deel van die wêreld ook al, wat die afspeel daarvan meegemaak het in die nuus, onthou nie nét dit nie, maar ook die doodgewone goed. Goed wat ons nie op ‘n ander dag enigsins aandag aan sou gee of in ons geheue sou stoor nie. Baie mense onthou presies waar hulle was, by wie hulle dit gehoor het. Ander onthou dalk voor watter televisie hulle gestaan het of waar hulle gery het toe die nuus van 9/11 gebreek het.
Ek onthou presies waar ek was en ek onthou wat in my eie lewe aangegaan het. Ek onthou hoe ek gevoel het en ek onthou waaroor ék daardie dag bekommerd was, want dit maak nie saak hoeveel dinge rondom ons in die wêreld gebeur nie, dit maak nie saak hoe diep die gat of hoe groot die ‘skrik’ is nie, ’n mens is nou maar eenmaal so om die wêreld eerstens te beleef vanuit jou eie klein stukkie daarvan.
Ek was 31 jaar oud en het saam met my kinders in Margate aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gebly. My man, hul pa, met wie ek toe reeds tien jaar getroud was, het die land verlaat op 21 Februarie, en kort daarna kontak met ons verbreek, uit die bloute, en ek het nie geweet waar in die wêreld hy was nie.
Toe gebeur 11 September op ‘n koel dag in Margate met ‘n ligte middag-misreën. Vyf-en-twintig jaar gelede vandag het miljoene mense regoor die wêreld na regstreekse televisiebeeldmateriaal gekyk wat eenvoudig nie sin wou maak nie. Die vliegtuie, die rook oor Manhattan en die torings wat val. Beelde wat binne enkele ure deel van die wêreld se kollektiewe geheue geword het en oor en oor op vele maniere en vanuit vele hoeke gedeel is.
Ek het geweet dat, terwyl ek daarna kyk, die wêreld vir duisende mense aan die ander kant van die aardbol besig was om tot stilstand te kom. Mense het gesterf en families sou oproepe kry wat hul lewens vir altyd verander. Troeteldiere sou wag en mense sou wag - wag vir geliefdes om by 'n deur in te loop en wag vir 'n oproep. Wag vir dit (die een) wat nooit (weer) sou arriveer nie. Vir elkeen van hierdie siele sou daar voortaan slegs ‘n voor en ’n ná wees, maar in Margate, as 31-jarige, met ‘n 8-jarige seuntjie en ‘n 5-jarige dogtertjie, moes my onseker lewe aangaan.
Ek moes steeds daardie dag ’n plan maak om geld te kry vir petrol om my kinders die volgende dag by hul skole in Port Shepstone te gaan aflaai. Daar moes steeds kos op die tafel wees. Daar moes steeds (‘n mate van) normaliteit geskep word binne al die deurmekaar en seer van, en verraad aan, die eie-ek en ons drietjies, want my kinders het steeds ’n ma nodig gehad, een ouer wat nooit haar rug op hulle sou draai nie, ongeag die verskrikking wat op ‘n televisieskerm of oor die radiogolwe ontvou het.
Dit klink ongelooflik selfsugtig (selfbehep), hier waar ek my eie woorde so sien verskyn op 'n skerm, maar dit is bloot een van daardie waarhede van menswees en die binnetoe-wêreld wat deel is van ons almal. Iets kan gebeur wat die mensdom, tydelik, tot stilstand ruk, maar die lewe staan nooit vir almal, op dieselfde oomblik, met dieselfde intensiteit, stil nie.
Iemand staan steeds in ’n winkel en weet daar is nie genoeg geld om te betaal nie. Iemand trou en is uitbundig gelukkig. Iemand begrawe ’n ouer, ‘n sib, ‘n kind, ‘n vriend. Iewers word ’n baba gebore en iewers lag iemand oor iets heeltemal belaglik terwyl iemand anders se lewe op presies dieselfde oomblik aan skerwe spat.
Ons gewone lewens hou aan om deur die geskiedenis te loop, dwarsdeur die rioolpype en die drekslote van die smal-of-die-breë weg, dit hou aan voortgaan selfs wanneer die (nou) geskiedenis se pyn naak teen ons voorkoppe gegooi word soos dit rondom ons besig is om te gebeur.
Dalk is dit juis hoekom sommige van ons wat 9/11 onthou, ook die doodgewone besonderhede van daardie dag so goed onthou. Ons lewens was aan’t deurloop, maar die ruk in ons binneste, met die aanhoor hiervan, was so geweldig, dat die deurloop vir ‘n oomblik stokstil geskok was in spore. Die enorme het vasgehaak aan die alledaagse.
Vandag het daardie herinnering van hande verwissel en vir ’n groeiende groep volwassenes is die wrakstukke daarvan bloot dokumentêre programme, foto’s en geskiedenisboeke.
’n Kwarteeu is lank genoeg vir die wêreld om te verander en lank genoeg vir kinders om groot te word. Dis lank genoeg vir iets wat ons onthou, stadigaan iets word wat ons aan die volgende geslag moet oorvertel, maar in my geval kan dit nie anders as om onthou te word met die eie-ek en die verwarring van daardie jaar nie.
Mag die Skepper elkeen wat daardie dag onthou se lewe vul met dankbaarheid - of dit nou ’n eie vashaak-herinnering is, soos in my geval (en dankbaarheid dat ek die krag gehad het om aan te hou), of die dankbaarheid van die onthou dat jy nog gelewe het om vir die geliefdes van die slagoffers van 9/11 te bid.
Dankbaarheid vir dit wat gister was, vir dit wat vandag is en vir die droom oor môre.
Almal wat my ken, ken hierdie gedig, die woorde daarvan veel ouer as 25 jaar. Lees dit en maak dit joune, want na alles geskryf, gesê, gesing en gedoen is, is dankbaarheid al wat oorbly - dankbaarheid vir die LEEF!
Leef
© ᴬⁿᵗʲᶦᵉ ˢᵒᴹᵉᴿˢ
Die dood is slegs ‘n tromslag
in die ritme van die lewenslied
In ‘n oomblik word ‘n liggaam stil
‘n siel verhuis, die wêreld bly kil
Moenie tyd mors op mense en dinge
wat die pad versper na jou doel
Kap die hand af wat jou pla,
lig jouself uit die dryfsandpoel
Tyd is kosbaar,
juis daarom,
moet jy ‘n leeftyd in ‘n hartklop leef
Gun jouself nie die weelde van tob oor môre,
want vanaand is jou,
(dalk)
nie eens beskore
𝕄𝕪 𝕡𝕦𝕟𝕥 𝕝𝕠𝕤 𝕖𝕜 𝕙𝕚𝕖𝕣 -
𝕨𝕒𝕥 𝕛𝕪 𝕕𝕒𝕒𝕣𝕞𝕖𝕖 𝕞𝕒𝕒𝕜,
𝕚𝕤 𝕛𝕠𝕦 𝕤𝕒𝕒𝕜 "."
𝕋𝕠𝕥 𝕨𝕖𝕖𝕣𝕤𝕚𝕖𝕟𝕤: 𝔸𝕟𝕟𝕚𝕖 𝕍𝕒𝕟𝕟𝕚𝕖 𝕂𝕒𝕒𝕡







