Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
ΔxΔp ≥ ħ⁄2: 'n Werklikheid waar absolute sekerheid onmoontlik is

ΔxΔp ≥ ħ⁄2: 'n Werklikheid waar absolute sekerheid onmoontlik is

As dit beteken ek druip iemand se toets van objektiwiteit, gaan ek vanaand nog steeds rustig slaap. So, wat het dit alles met Heisenberg en sy slimmigheid uit te waai? Al wat ek vir jou kan sê is: "Kyk objektief daarna 😉".

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Voordat die fisici hul sleutelborde begin warm tik, laat ek hulle sommer die moeite spaar. Ja, ek weet. Ek weet dat die Heisenberg-onsekerheidsbeginsel oor kwantumstelsels gaan, maar as jy my goed ken, behoort jy ook te weet ek het 'n gewoonte om 'n idee aan die een kant van die heelal te gaan haal, nader te hark en dit iewers anders te gaan neersit bo-op 'n mishoop waar dit eintlik geen besigheid het om te wees nie. Dis hoe my kop werk wanneer ek soms begin skryf. Partykeer forseer ek metafore só erg dat die spreekwoordelike passende handskoen plek het vir 'n voet, maar vir my pas dit dan éérs goed. O, en voor ek vergeet, die keinaain-liefde van my lewe, my tienjarige terriër, se naam is ook Heisenberg. Dit het absoluut niks met hierdie skrywe te doen nie. Of dalk het dit. Ek het nog nie besluit nie, maar ek het 'n verskoning gesoek om die woord keinaain te skryf. Boonop beskryf die opskrif hom to a tee. Relatiewe sekerheid, in elk geval.

Die Heisenberg-onsekerheidsbeginsel vertel ons dat daar 'n ingeboude kompromie in die natuur is. Jy kan met buitengewone akkuraatheid weet waar 'n deeltjie is, óf jy kan met buitengewone akkuraatheid weet hoe vinnig dit beweeg, maar jy kan nooit albei op presies dieselfde oomblik met absolute sekerheid weet nie. Nie omdat ons tegnologie nie goed genoeg is of omdat wetenskaplikes nie hulle werk doen nie, maar eenvoudig omdat die heelal, sover ons dit tans verstaan in elk geval, dit nie toelaat nie.

En dit is presies waar my brein begin afdwaal. Nee, ek probeer nie beweer Werner Heisenberg het in die geheim 'n filosofiese verhandeling oor joernalistiek, politiek of die menslike natuur geskryf nie. Ek wonder net of 'n metafoor nie soms sy eie koers inslaan en op interessante plekke kan beland nie.

As die werklikheid self grense het aan wat tegelykertyd geken kan word, waarom praat ons, die mens, dan dikwels oor objektiwiteit asof dit iets is wat ons almal eenvoudig eendag, iewers op 'n kol, bereik? Dis mos warmekak.

Kom ons gebruik joernalistiek as voorbeeld, want dis 'n wêreld wat ek ken. Elke storie het 'n begin, maar iemand besluit waar daardie begin is. Elke onderhoud begin met een vraag en nie met 'n ander een nie. Vir elke dokument wat ons aanhaal, is daar tien wat ons nie aanhaal nie. Elke opskrif laat die kollig op een deel van 'n storie val, terwyl iets anders in die skadu bly. Nie een van daardie dinge maak die verslaggewing outomaties oneerlik nie. Dit herinner my bloot daaraan dat daar 'n groot verskil is tussen iets waarneem en alles daarvan vasvang. (En hier neuk my kop alweer na ander dinge toe wat ek bitter graag hier sal wil inbring, maar wat hierdie geneuk net nog meer deurmekaar gaan maak, so ek sal dit maar laat lê vir nou.)

Elkeen van ons benader die wêreld vanuit 'n bepaalde plek. Ons ervarings, opvoeding, oortuigings, foute, suksesse en selfs ons persoonlikhede bepaal waarna ons eerste kyk en wat ons maklik miskyk. (Nee, ek verwys nie hier na persepsie nie.) Ons kan onsself dwing om regverdig te wees, ons kan ons eie aannames bevraagteken en ons kan moeite doen om ander perspektiewe te hoor, maar volkome objektiwiteit is en sal waaragtig nooit moontlik wees nie. Tog neuk baie om almal en almal se maat daarvan te probeer oortuig dat hulle dan nou kwansuis die een is wat totale objektiwiteit bereik het. Gaan besoek enige Facebook-inskrywing wat mense onrustig stem en jy sal dit sien. Dis nie lank nie of die oorspronklike plasing, die bal wat gegooi is, lê vergete eenkant en mense begin mekaar uit te haal oor hoe die een blykbaar meer objektief is as die ander. Dis juis so 'n Facebook-eks-kollega se plasing wat my tot hier gebring het. Nie die skrywe self nie, maar die geskel van mense daarna. Die een probeer meer volwasse klink as die volgende en die ander probeer die heeltyd mense van sy objektiwiteit oortuig. Fkweet.

Nee, ek dink nie die Heisenberg-onsekerheidsbeginsel bewys enigiets oor objektiwiteit nie. Dit sal 'n belaglike gevolgtrekking wees, maar as metafoor werk dit vir mý, want as die werklikheid self nie toelaat dat alles tegelykertyd met absolute sekerheid geken kan word nie, waarom verwag ons dit dan van onsself? Waarom maak ons asof daar iewers 'n punt bestaan waar 'n mens jou eie menswees kan afskud en skielik uit 'n plek van suiwer objektiwiteit kan praat? Ek glo eenvoudig nie so 'n plek bestaan nie.

Op 'n meer ernstige noot. As ek nou my eie redenasie moet volg, sal die strewe na objektiwiteit sekerlik beteken dat ek moet begin krap tussen die woorde van my laaste redakteurskolom (onder 👇🏻) oor pedofiele en sex offenders; dat ek ruimte moet laat vir argumente oor privaatheid, rehabilitasie en tweede kanse; dat ek seksuele oortreders ook 'n plek in die son moet gun om hulself weer as ordentlike mense te bewys.

A convicted sex offender has no rights. To anything. Full stop.
The public has a right to know who is living in its communities. Parents have a right to know if a convicted child sex offender has moved into their neighbourhood. Schools and sports clubs should not have to rely solely on a closed government database to protect the children in their care.

Jy sou met absolute akkuraatheid moet weet waar so 'n monster is én met buitengewone akkuraatheid moet bepaal hoe vinnig die donner beweeg voordat jy dit selfs kon oorweeg om sy naam in 'n geslote register te hou wanneer hy terugneuk in die samelewing in. Daar is egter geen mens wat albei op presies dieselfde oomblik met absolute sekerheid sal kan weet nie, ongeag hoeveel objektiwiteit hy kwansuis aan die dag lê.

Ek gee nie 'n hel om of 88 sielkundiges my vertel hierdie monsters is rehabiliteerbaar nie, en nog minder of 66 heiliges die vinger voor my kom swaai oor vergifnis nie. Die dag wat jy besluit om 'n dier, 'n kind, 'n man of 'n vrou te verkrag, het jy, wat my betref, enige aanspraak op my strewe na objektiwiteit verloor. Jou naam behoort aan elke groot klok gehang te word nog voordat jy jou pote buite 'n tronk se hek sit, wat, wat my betref, in elk geval nooit behoort te gebeur nie.

Wat ek nie sal doen nie, is om die woord objektiwiteit te gebruik om my eie morele kompas weg te steek nie, want as selfs die werklikheid grense het aan wat tegelykertyd geken kan word, sien ek geen rede waarom ek moet voorgee dat ek geen grense het aan wat ek bereid is om moreel te aanvaar nie. Daar is plekke waar ek graag na albei kante van 'n argument sal luister. Daar is plekke waar ek met nuwe feite my mening sal verander. En dan is daar plekke waar ek eenvoudig sê: Tot hier en nie verder nie.

As dit beteken ek druip iemand se toets van objektiwiteit, gaan ek vanaand nog steeds rustig slaap. So, wat het dit alles met Heisenberg en sy slimmigheid uit te waai? Al wat ek vir jou kan sê is: "Kyk objektief daarna 😉".

En my keinaain se boodskap? "."


📽️ Rapist on parole sentenced to two life terms for murder of eight-year-old
The court found that the offences were committed on June 15, 2023, while Daniel was attending a sleepover at a friend’s home in Peerless Park North, Kraaifontein. The man was convicted on charges including murder, rape and sexual assault.
Malmesbury father sentenced to life for raping his three daughters
The crimes only came to light after the victims’ mother decided to divorce the accused. During that process, the three daughters disclosed the years of abuse they had endured.
Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More