’n Ekstra "vakansiedag" wat ons nie kan bekostig nie
Selfs die 1c-mossies wat nog in omloop is, sit kaalgat gestroop van hul vere. Ons sê SA het ekonomiese groei en werkskepping nodig, terwyl daar niks van gedink word om ’n ekstra betaalde openbare vakansiedag by die kalender te voeg nie.

Ek gaan nou die pretbederwer wees, maar Suid-Afrika kan nie aanhou maak asof ’n ekstra openbare vakansiedag ’n gratis geskenkie is wat bloot met ’n handtekening op die kalender gevoeg kan word nie.
President Cyril Ramaphosa het Woensdag, 4 November, ingevolge artikel 2A van die Wet op Openbare Vakansiedae, tot ’n openbare vakansiedag verklaar. Dit is die dag waarop Suid-Afrika se plaaslike regeringsverkiesing plaasvind en die presidensie sê die vakansiedag moet geregistreerde kiesers die geleentheid gee om hul stem uit te bring. Werkgewers is ook versoek om voorsiening te maak dat werknemers hul grondwetlike reg om te stem kan uitoefen.
Verstaan mooi, niemand stry dat mense die geleentheid moet kry om te stem nie. Ek allermins. Dit is ook nie waar my probleem lê nie. My probleem is die gemak waarmee ’n hele werksdag uit die kalender gehaal word asof die ekonomiese gevolge daarvan saam met die besluit verdwyn.
Dit gaan boonop oor veel meer as ’n dag se verlore produktiwiteit, want wanneer ’n openbare vakansiedag op ’n dag val waarop ’n werknemer normaalweg sou werk, moet die werknemer minstens sy of haar gewone loon vir daardie dag ontvang, selfs wanneer hy of sy nie werk nie. Indien die werknemer wel werk, bepaal artikel 18 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes dat minstens dubbel die gewone bedrag vir daardie dag betaal moet word, of die gewone dagloon plus die bedrag wat vir die gewerkte tyd verdien is (indien laasgenoemde meer is).
Daar is ook ’n afsonderlike berekening wanneer iemand op ’n openbare vakansiedag werk wat normaalweg nie ’n werksdag vir daardie werknemer sou wees nie. Werknemers wat meer as die huidige inkomstegrens van R269 900,90 per jaar verdien, is sedert 1 Mei vanjaar van onder meer dié spesifieke bepaling, artikel 18(3), uitgesluit.
Dit beteken dat die koste van 4 November nie net lê in die werk wat vir ’n dag nie gedoen word nie. Winkels, restaurante, hotelle, vulstasies, veiligheidsmaatskappye en talle ander ondernemings kan nie eenvoudig hul deure sluit omdat dit ’n openbare vakansiedag is nie. Iemand moet die winkel beman, die kos voorberei, die hotel bedryf, brandstof verkoop en veiligheidsdienste aan die gang hou. Vir ondernemings met werknemers wat ingevolge die wet teen openbare-vakansiedagtariewe vergoed moet word, beteken dit ’n groter loonrekening.
Die alternatief vir baie ondernemings is om toe te maak. Die werknemers wat normaalweg daardie dag sou werk, moet steeds betaal word, terwyl die onderneming vir daardie dag geen handel dryf of produksie lewer nie.
Hoe ons ook al daarna kyk, iemand betaal.
Dit is ook nie ’n nuwe argument nie. In 2011, toe ’n ekstra openbare vakansiedag verklaar is, het BDO South Africa geraam dat dit ondernemings sowat R7 miljard aan omset kon kos. BDO het destyds ook gewys op verlore produksie en werksure, asook die bykomende arbeidskoste vir ondernemings wat hul werkskedules moes verander of werknemers teen openbare-vakansiedagtariewe moes betaal. Dit was ’n raming vir daardie spesifieke vakansiedag 15 jaar gelede en nie ’n berekening van wat 4 November vanjaar gaan kos nie, maar dit wys baie duidelik dat ’n ekstra openbare vakansiedag nie sonder ekonomiese gevolge is nie. Dit is moeilik om te verstaan hoe ons in 2026 so gemaklik daaroor kan wees.
Ons praat elke dag oor werkloosheid en ons praat oor ondernemings wat sukkel om kop bo water te hou. Almal kla oor die koste van kos, elektrisiteit en brandstof. Selfs die 1c-mossies wat nog in omloop is, sit kaalgat gestroop van hul vere. Dis nou in die beursies van dié van ons wat régtig sente moet omdraai. Ons sê Suid-Afrika het ekonomiese groei en werkskepping nodig, terwyl daar niks van gedink word om ’n ekstra betaalde openbare vakansiedag by die kalender te voeg nie. Dit maak eenvoudig nie vir my sin nie.
Suid-Afrika het 12 statutêre openbare vakansiedae. Wanneer een daarvan op ’n Sondag val, bepaal die Wet op Openbare Vakansiedae dat die daaropvolgende Maandag ook ’n openbare vakansiedag is. Nasionale Vrouedag het vanjaar op Sondag, 9 Augustus, geval, wat beteken het dat Maandag, 10 Augustus, ook ’n openbare vakansiedag was. Nou is 4 November óók in dié mix.
Ek weet nie wat die perfekte oplossing is nie. Then again, ek word nie betaal om te weet nie. Sou ek daai vet pay cheque gekry het, sou ek seker ’n oplossing bedink het, rug teen die muur en all. Wat ek wel weet, is dat hierdie pragtige land reeds sy gat gesien het. Die geskiedenis laat my ook wonder hoeveel belastinggeld weer op verkiesingsdag-fanfare en magsbetoon spandeer gaan word. (En ek sal glad nie verbaas wees as daar iewers weer ’n paar moerse onnodige parties vir die een of ander hooggeplaaste gehou word nie, komplimente van die belastingbetaler.)






