Jou troeteldier is dood. Hoekom moet jy môre werk toe?
Ek het nog nooit verstaan waarom ons rou in ’n kompetisie moet verander nie. Iemand anders se verlies maak nie joune kleiner nie, en die feit dat een mens ná die dood van ’n dier binne ’n paar dae weer normaal funksioneer, sê absoluut niks oor die volgende mens se verhouding of verlies nie.

’n Studie wat in Januarie in PLOS One gepubliseer is, het ’n interessante vraag gevra aan mense wat die dood van ’n geliefde dier én die dood van ’n mens beleef het: watter verlies was die ontstellendste? Van diegene wat albei geken het, het 21% die dood van hulle dier gekies.
Dit is nogal ’n syfer om by stil te staan, veral omdat ons steeds ’n vreemde hiërargie het waar dit by rou kom. Ons aanvaar sonder veel verduideliking dat die dood van ’n lewensmaat, ouer, kind, broer, suster of goeie vriend iemand vir ’n wyle uit die alledaagse wêreld kan haal om te rou. Niemand verwag enigsins dat jy die volgende oggend by die werk moet opdaag, jou e-posse antwoord en teen nege-uur in ’n vergadering moet sit nie. Verloor jy egter ’n troeteldier wat vir jare deel was van jou lewe, is die simpatie dikwels opreg, maar die verwagting ook duidelik: sterkte, dit is verskriklik. “Wanneer is jy terug by die werk?”
Dit bring my by nog iets waarmee ek nog altyd ’n probleem het: “Dit was darem (of gelukkig) net ’n dier.” Die probleem met daardie “net” is dat die persoon wat dit sê gewoonlik geen idee het hoe dit is om só oor jou troeteldier te voel dat jou hart wil bars van liefde nie.
Baie mense praat van hulle diere as hulle kinders, en as dit die verhouding beskryf, is dit presiés wat dit is en dikwels beweeg hul diere ook as metgeselle deur hul lewens. Hulle ken die jonger weergawe van jou en, as jy gelukkig genoeg is, bly hulle lank genoeg om die ouer een ook te ontmoet. Hulle trek van huis tot huis, beleef verhoudings wat kom en gaan, lê langs jou wanneer jou hart flenters is en is nét so deel van ’n doodgewone dag as wat hulle deel is van groot oomblikke. Hulle is die reinste en opregste van siele wat jou waaragtig onvoorwaardelik liefhet, ongeag jou status en of jy die mensgemaakte reëls van die samelewing volg of nie.
Daar is selfs ’n term vir rou wat nie behoorlik erken word nie: disenfranchised grief. Dit kan gebeur wanneer iemand ná die dood van ’n dier rou, maar terselfdertyd aanvoel dat die samelewing ’n beperking plaas op hoeveel hartseer aanvaarbaar is. Jy mag hom mis, natuurlik, maar nie té lank nie; jy mag huil, maar dalk nie by die werk nie; jy mag stukkend wees, maar daar is altyd iemand gereed om jou daaraan te herinner dat ander mense “erger” verloor het.
Ek het nog nooit verstaan waarom ons rou in ’n kompetisie moet verander nie. Iemand anders se verlies maak nie joune kleiner nie, en die feit dat een mens ná die dood van ’n dier binne ’n paar dae weer normaal funksioneer, sê absoluut niks oor die volgende mens se verhouding of verlies nie.
Die RSPCA se jongste Pet Grief Survey maak die werkplek-deel hiervan besonder moeilik om te ignoreer. 92% het gesê hul rou het hul vermoë om te werk in ’n mate beïnvloed, terwyl 77.4% gevoel het dat die verlies van ’n dier nie ernstig genoeg in die werkplek opgeneem word nie. Byna 70% het probleme met konsentrasie of funksionering ervaar, 65.9% het gesukkel om te slaap en 72.6% het ’n verlies aan roetine of doelgerigtheid gerapporteer. Meer as die helfte het gevoel hulle moet hul hartseer wegsteek.
Dit laat ’n redelike eenvoudige vraag vir werkgewers: as iemand werklik rou en op daardie oomblik nie behoorlik kan funksioneer nie, waarom moet die spesie van die een wat dood is bepaal hoeveel begrip daardie werknemer verdien?
Moenie die verhouding probeer kleiner maak om die persoon beter te laat voel nie en, asseblief tog, moenie vir iemand wat pas ’n geliefde dier verloor het sê hulle kan “mos weer een kry” nie. ’n Nuwe troeteldier vervang nie die een wat dood is nie, nes ’n nuwe verhouding ’n mens wat dood is, uit jou geskiedenis kan vee nie.
Die wetenskap hoef ons nie toestemming te gee om medemenslik te wees nie, maar dit is betekenisvol dat die navorsing al hoe duideliker bevestig wat baie mense reeds uit ervaring weet: die dood van ’n geliefde dier kan ernstige, langdurige en ontwrigtende rou veroorsaak.
Vir sommige mense sal dit een van die grootste verliese van hulle lewens wees en wanneer die dood daardie verhouding eindig, rou die mens wat agterbly en jy hoef nie eers die verhouding te verstaan om dit te respekteer nie.







