Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Hoeveel vroue se lyke is genoeg?

Hoeveel vroue se lyke is genoeg?

Sy skuld jou nie vriendelikheid om jou gemaklik te laat voel nie. Sy hoef nie eers seker te wees dat jy ’n bedreiging is voordat sy haarself beskerm nie. Teen die tyd dat sy seker is, kan dit reeds te laat wees!

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

OPDATERING; 17 SEPTEMBER:

Body of ninth woman found in Boksburg - SABC News - Breaking news, special reports, world, business, sport coverage of all South African current events. Africa’s news leader.
This brings to nine the number of women’s bodies found in Ekurhuleni since July this year.

REDAKTEURSRUBRIEK

Daar is iets geweldig verkeerd daarmee dat ons vroue moet leer hoe om nié vermoor te word nie. Lees dit wéér.

Ons het al só gewoond geraak aan die voorsorgmaatreëls wat deel van vrouwees is dat ons nie meer besef hoe absurd dit eintlik is nie. Ons moet versigtig wees waar ons loop, waar ons parkeer, hoe laat ons ry, wie agter ons loop, of ons alleen gaan draf, met wie ons vriendelik is, wat ons aantrek, en of ons ’n ligging met iemand gedeel het en of iemand weet wanneer ons veronderstel is om by die huis te wees. Ons stuur boodskappe om te sê ons is veilig tuis en ons leer ons dogters om dieselfde te doen, want dis mos die lesse wat 'n verantwoordelike ma moet oordra. Nee! Dis wat ’n ma doen in ’n samelewing waar sy weet haar dogter se veiligheid kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Nou lê daar agt vroue dood en word agt sake in Ekurhuleni ondersoek. Laat ek dadelik die joernalistieke streep hier trek: SAPS het nié bevestig dat die sake almal met mekaar verband hou of dat een persoon vir al agt vroue se dood verantwoordelik is nie. Die polisie ondersoek juis nou of daar verbande bestaan, ’n multidissiplinêre ondersoekspan is saamgestel en ’n R400 000-beloning word aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisneming van die verantwoordelike persoon of persone kan lei.

Dit is die feite, en die feite is erg genoeg. Ons hoef niks by te lieg nie en ons hoef niks groter te maak en geen sogenaamde reeksmoordenaar op sosiale media uit te dink om te besef dat ons ’n probleem het nie.

Agt vroue is dood. Twee van hulle is reeds geïdentifiseer, terwyl families van talle vermiste vroue steeds met die ondenkbare moontlikheid sit dat een van die ongeïdentifiseerde liggame aan hulle kan behoort.

Vrydag, 18 September, word Suid-Afrikaners gevra om swart te dra.

Natuurlik gaan ek dit doen. Alle publikasies in die iOlogue Media-stal, wat slegs uit vroue bestaan, sal ook deelneem deur ons profiel- en bannierfoto’s op sosiale media te verander. Ons sal dit doen vir agt dae. Nie omdat ek onder enige illusie verkeer dat ’n swart hemp of ’n swart profielfoto geweld teen vroue gaan stopsit nie, maar omdat daar tye is wanneer ’n mens eenvoudig sigbaar móét wys waar jy staan.

Vir my gaan dit ook oor iets groter as hierdie agt sake. Dit gaan oor die feit dat ons al vir jare dieselfde gesprek voer, dieselfde waarskuwings aan vroue gee: Moenie alleen loop nie. Moenie jou drankie neersit nie. Laat weet wanneer jy daar aankom. Deel jou ligging. Kyk agter jou. Sluit jou deur. Wees wakker. Wees versigtig. Hou jouself veilig. Beskerm jouself. Moet niemand vertrou nie. Draai jou rug na agter wanneer jy in die kar klim. Observeer. Jy mag nie ontspan nie en jy mag nie oorgee aan 'n vrede wat sonder enige voorwaardes is nie.

Altyd dieselfde: verander jou gedrag sodat iemand anders jou nie leed aandoen nie. Hoe de hel aanvaar ons, en die res van die samelewing, dit as normaal?

En hier wil ek iets bysit vir die mans wat nog steeds in die gesig gevat voel wanneer ’n vrou koud voorkom, nie wil gesels nie, nie terugglimlag nie, haar afstand hou of volgens hulle ’n onnodige bohaai maak oor iets wat vir hóm heeltemal onskuldig lyk. As jy in die wêreld waarin ons tans leef nog steeds ’n vrou se versigtigheid persoonlik opneem, verstaan jy eenvoudig nie die werklikheid waarin vroue elke dag beweeg nie.

Sy skuld jou nie vriendelikheid om jou gemaklik te laat voel nie. Sy hoef nie eers seker te wees dat jy ’n bedreiging is voordat sy haarself beskerm nie. Teen die tyd dat sy seker is, kan dit reeds te laat wees! Kry jy, man, dit?

En dieselfde geld aanlyn. Die mans wat vroue op Facebook en ander platforms aanhoudend pla, boodskappe stuur nadat daar geen reaksie was nie, seksueel raak wanneer niemand daarvoor gevra het nie, soetsappige, grillerige kommentaar lewer, en dan beledig voel of aggressief raak wanneer hulle geïgnoreer, geblok of aangespreek word, moet asseblief ophou. Dis nie flirt as net een persoon dit geniet nie. Dis nie ’n kompliment omdat jý besluit het dit is een nie. En “ek het mos net ’n grappie gemaak” is nie ’n vrypas om 'n vrou ongemaklik te maak nie!

Ek het ’n dogter en ek werk elke dag saam met vroue vir wie ek lief is en ken, en daarom gaan ek nie Vrydag swart dra omdat dit ’n lekker Facebook-veldtog is nie. Ek gaan swart dra omdat ek GATVOL is daarvoor dat ons veiligheid steeds so dikwels afhanklik gemaak word van hoe goed óns gevaar kon voorsien.

Die verantwoordelikheid om nie vermoor, verkrag, aangerand of mishandel te word nie, behoort nooit op die potensiële slagoffer se skouers te rus nie.

Dit laat my ook weer dink aan die hele man vs bear-sage van 2024. Die vraag was eenvoudig genoeg: As jy as vrou alleen in ’n woud moet wees, kies jy ’n vreemde man of ’n beer? Die ding het behoorlik vlamgevat toe ’n verstommende aantal vroue die beer gekies het, en mans wêreldwyd toe meer ontsteld was oor die antwoord as oor die redes waarom vroue dit gegee het.

Self het ek nooit een woord hieroor geskryf nie, want daar is beide kante toe voor-en nadele - let's face it, 'n beer gaan nie op sy rug draai en lê en wag vir 'n belly-rub nie, maar ná al die jare waarin ek oor geweld teen vroue geskryf het, stukkende dogters, baba's, kinders gesien het, moes skryf oor verkragtings en aanrandings waar die vermeende oortreders dikwels ook iemand was wat hulle geken en vertrou het, verstaan ek heeltemal waarom soveel vroue die beer gekies het.

Die beer was nooit die probleem nie. Die probleem is die feit dat soveel vroue na ’n wilde dier kyk en steeds dink: ten minste weet ek presies waarvóór ek moet bang wees.

En as jy as man geaffronteer voel omdat ’n vrou die beer sou kies, eerder as om jouself af te vra wat in haar ervaring van hierdie wêreld gemaak het dat sy daardie antwoord gee, dan het jy die hele gesprek gemis. Dan is dit hoog tyd dat jy bykom.

In 2014, in my kantoor by die koerant, het ek ’n gedig geskryf wat uit dieselfde plek gekom het. Dit is hard en rou en kras en die foto is een waar ek voor die tronk in Barberton (Barberton Town Correctional Services) staan nadat ek, vrou, vir die soveelste maal tyd daar moes spandeer vir 'n storie. En enigeen kan nou maar dink en sê van my net wat en soos hulle wil, ek steur my elkgeval min aan die opinies wat ander van my het. Een ding weet ek - ek is 'n vrou en ek weet wat ek weet. Ek deel hierdie in solidariteit met alle vroue wat nog hier is, want vir die vroue van Ekurhuleni is dit te laat. My woorde breek hier namens elke vrou wat al haar roete moes verander het, haar sleutel tussen haar vingers vasgeklem het, ’n boodskap gestuur het om te sê sy is veilig, haar ma moes bel om te vertel van hoe 'n man of mans haar onveilig laat voel het, en hoe sy haar instink vertrou het terwyl iemand anders vir haar gesê het sy oorreageer.

Vrydag dra ek swart. Nie vir ’n trend nie. Nie vir ’n foto nie. Ek dra dit vir jou, vrou, vir my, vrou, vir hulle wie se asems vir oulaas uitgeblaas is, en wat nooit weer die voorreg van een tree op hierdie aarde sal proe nie. Ek deel dit in die hoop dat dit iewers op die ore van 'n man sal val, 'n man wat dink dit is aanvaarbaar om vroue te objectify - sodat iets in my woorde hom dalk net kan laat dink! Ek deel dit met die hoop op 'n beter toekoms vir my dogter, my geliefdes en hulle dogters en vir elke ander ma wat, soos ek, hoop dat jong vroue nie dieselfde veiligheidsreëls aan húlle dogters hóéf te leer nie.

VRYDAG DRA EK SWART.
EN JY?

𝕋𝕠𝕥 𝕨𝕖𝕖𝕣𝕤𝕚𝕖𝕟𝕤: 𝔸𝕟𝕟𝕚𝕖 𝕍𝕒𝕟𝕟𝕚𝕖 𝕂𝕒𝕒𝕡.


I was raped at seven. How careful should I have been?
Fear does not mean women hate men; it means many women have learnt, through experience or through watching what happens to other women, that getting the assessment wrong can cost us something we cannot get back.
Swart klere, maar ’n boodskap wat ons almal moet hoor
Wanneer ’n skool sy meisies vra om swart aan te trek, is dit meer as net ’n bewusmakingsdag. Dit is ’n standpunt teen die geweld wat steeds te veel vroue se lewens verwoes.
When even the travel community needs to face the reality of gender-based violence
South Africa’s beauty and hospitality attract travellers from around the world, but responsible travel also means understanding the realities faced by local communities.
Small towns, hidden violence: The Karoo’s GBV service gap
Can a woman reach help without having to ask her abuser for petrol money? Can she take her children with her? Is there somewhere safe for her to stay after dark? Will a police vehicle come if she lives on a distant farm? Can she receive medical care without travelling halfway across a province?
Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More