Subscribe to Our Newsletter

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks
Ook in kleiner gemeenskappe is daar nie weggekyk nie
Personeel van die Theewaterskloof Munisipaliteit se biblioteek in Riviersonderend het Vrydag swart gedra in solidariteit met vroue wat deur geweld geraak word. V.l.n.r. Phozisa Rasimeni, Caché Philander, Ashley Booysen, Merande Carelse en Sinazo Vivi. Foto: Anchen Coetzee.

Ook in kleiner gemeenskappe is daar nie weggekyk nie

Gister het ons gewys waar ons staan. Van vandag af moet ons wys wat ons bereid is om daaraan te doen, want een dag kan aandag vestig op geweld teen vroue, maar wat vorentoe gebeur, sal bepaal of enigiets werklik gaan verander.

Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

RIVIERSONDEREND, Wes-Kaap: Terwyl Suid-Afrikaners Vrydag swart gedra het in solidariteit met vroue wat deur geweld geraak word, was dié gebaar ook in kleiner gemeenskappe sigbaar.

Die liggame van agt vroue is sedert Julie in Ekurhuleni gevind, met die negende vrou se liggaam Donderdag in Dawn Park, Boksburg. Die polisie ondersoek steeds die omstandighede van die sterftes en moontlike verbande tussen die sake.

Hoewel dié moorde die afgelope tyd sentraal in die land se nuus gestaan het, het Vrydag ook oor veel meer as nege sterftes gegaan. Hul dood het opnuut die kollig geplaas op die veel groter probleem van geweld teen vroue, geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in Suid-Afrika, en dié probleem hou nie by die grense van groot stede op nie.

Soos Africa InTouch News se susterpublikasie, Karoo Times, Donderdag geskryf het, kan afstand en isolasie vir vroue in kleiner gemeenskappe wat geweld ervaar, beteken dat hulp en ondersteuning nie altyd maklik bekombaar is nie.

Small towns, hidden violence: The Karoo’s GBV service gap
Can a woman reach help without having to ask her abuser for petrol money? Can she take her children with her? Is there somewhere safe for her to stay after dark? Will a police vehicle come if she lives on a distant farm? Can she receive medical care without travelling halfway across a province?
In Riviersonderend in die Wes-Kaap het vyf werknemers van die Theewaterskloof Munisipaliteit se plaaslike biblioteek in dié dorp Vrydag gewys dat die oproep tot solidariteit ook in klein gemeenskappe gehoor is.

Africa InTouch News het Phozisa Rasimeni, Caché Philander, Ashley Booysen, Merande Carelse en Sinazo Vivi vroegoggend raakgesien. Hulle was op pad terug van die plaaslike ouetehuis, waar hulle as deel van hul werk ’n program vir die bejaardes aangebied het. Al vyf was in swart geklee.

“Ons dra vandag swart om die vroue wat deur geweld hul lewens verloor het te herdenk en in die hoop op verandering,” het Vivi namens die groep gesê. “Ons vra vir ’n Suid-Afrika waar vroue veilig kan leef, veilig kan werk, veilig kan stap en kan huis toe gaan sonder vrees.”

“Geen mens kan in isolasie bestaan nie. ’n Regverdige samelewing berus op wedersydse erkenning en die gedeelde krag van al sy lede, mans en vroue,” het Booysen, haar kollega en die enigste man in die groep, bygevoeg.

Dit is ’n sterk boodskap, want geweld teen vroue is nie iets wat vroue kan oplos deur versigtiger te wees of anders op te tree nie. Die verandering moet by mans in die gemeenskap begin. Dit begin by hoe seuns grootgemaak word en gaan voort in huise, vriendekringe en werksplekke, in hoe mans vroue behandel, maar ook in gedrag wat hulle van ander mans aanvaar, verskoon of stilweg laat verbygaan. Ons kan nie aanhou om vroue te leer hoe om geweld te vermy nie. Ons moet mans leer om dit nie te pleeg nie. 
Dit behoort ook nie uitsonderlik te wees, of geprys te word, wanneer mans langs vroue staan wanneer daar teen geweld opgetree word nie. Dit behoort normaal te wees.

Nou dat die swart klere van Vrydag weggepak is, mag die rede waarom ons dit gedra het nie daarmee saam verdwyn nie. Hierdie joernalis doen ’n beroep op mans én vroue om te sorg dat gister meer beteken as ’n enkele dag van solidariteit, maar dat die boodskap daarvan deel word van hoe ons elke dag dink.

Die erns van geweld teen vroue moet deel vorm van ons daaglikse bestaan. Ons moet raaksien wanneer iemand mishandel word of vermoedelik in gevaar is, mense ernstig opneem wanneer hulle hulp vra en ophou om geweld, dreigemente en beheer as ’n private huishoudelike saak te beskou. Die verantwoordelikheid om veilig te bly, kan nie langer op vroue se skouers geplaas word nie. Dit geld in die groot stede, maar ook in Riviersonderend en elke ander gemeenskap in Suid-Afrika.

Gister het ons gewys waar ons staan. Van vandag af moet ons wys wat ons bereid is om daaraan te doen, want een dag kan aandag vestig op geweld teen vroue, maar wat vorentoe gebeur, sal bepaal of enigiets werklik gaan verander.

Hoeveel vroue se lyke is genoeg?
Sy skuld jou nie vriendelikheid om jou gemaklik te laat voel nie. Sy hoef nie eers seker te wees dat jy ’n bedreiging is voordat sy haarself beskerm nie. Teen die tyd dat sy seker is, kan dit reeds te laat wees!
I was raped at seven. How careful should I have been?
Fear does not mean women hate men; it means many women have learnt, through experience or through watching what happens to other women, that getting the assessment wrong can cost us something we cannot get back.
Swart klere, maar ’n boodskap wat ons almal moet hoor
Wanneer ’n skool sy meisies vra om swart aan te trek, is dit meer as net ’n bewusmakingsdag. Dit is ’n standpunt teen die geweld wat steeds te veel vroue se lewens verwoes.
Anchen Coetzee profile image
by Anchen Coetzee

Subscribe to New Posts

Success! Now Check Your Email

To complete Subscribe, click the confirmation link in your inbox. If it doesn’t arrive within 3 minutes, check your spam folder.

Ok, Thanks

Read More