Solidariteit neem rooiseëlkwessie na arbeidshof
Volgens Solidariteit bevind honderde gekwalifiseerde ambagslui hulle maande lank reeds in ʼn doodloopstraat nadat hulle hul vaktoetse suksesvol voltooi het.
Solidariteit het die Arbeidshof genader oor wat hy beskryf as ernstige vertragings met die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan gekwalifiseerde ambagslui. Volgens die vakbond laat die administratiewe agterstand honderde mense wag om hul beroepe ten volle te kan beoefen, ondanks die feit dat hulle reeds hul vaktoetse suksesvol voltooi het.
Die vakbond voer aan dat die vertragings werk- en loopbaangeleenthede benadeel en vra die hof om die betrokke staatsinstellings te verplig om die agterstand uit te wis en die sertifiseringsproses te verbeter.
Onder volg die persverklaring, verbatim, soos uitgereik deur Solidariteit.
Solidariteit nader hof oor rooiseëlkrisis wat ambagslui se loopbane knou
29 Junie
Solidariteit het ʼn dringende aansoek in die arbeidshof gebring om die staat te dwing om die onaanvaarbare vertragings met die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan gekwalifiseerde ambagslui te beëindig.
Die hofstukke is op altesaam 21 respondente beteken, onder wie die minister van hoër onderwys en opleiding, die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) en verskeie toepaslike sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SETA’s).
Volgens Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk, bevind honderde gekwalifiseerde ambagslui hulle maande lank reeds in ʼn doodloopstraat nadat hulle hul vaktoetse suksesvol voltooi het, maar steeds wag vir die sertifikate waarop hulle wetlik geregtig is.
“Wanneer ʼn ambagsman hul vaktoets slaag, behoort dit die begin van ʼn loopbaan te wees. In plaas daarvan word dit vir hierdie jong ambagslui die begin van ʼn eindelose wagtydperk.
“Sonder ʼn rooiseëlsertifikaat verloor mense werksgeleenthede, bevorderings en selfs internasionale loopbaangeleenthede,” se Pretorius.
Die hofaansoek vra die hof onder meer om te verklaar dat die versuim om rooiseëlsertifikate binne die voorgeskrewe tyd uit te reik, onwettig is en dat die betrokke staatsinstellings gelas word om die bestaande agterstand binne vasgestelde tydsraamwerke uit te wis.
Solidariteit vra ook dat die betrokke instellings, saam met ander rolspelers, ʼn gesamentlike aksieplan ontwikkel om die onderliggende sistemiese probleme permanent op te los.
Pretorius sê dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika enersyds kla oor ʼn ernstige tekort aan gekwalifiseerde ambagslui, terwyl dit andersins verhoed dat mense wat reeds hul kwalifikasies verwerf het, die arbeidsmark betree weens administratiewe wanfunksionering.
“Die land praat voortdurend oor die dringende tekort aan tegniese vaardighede, maar terselfdertyd word mense wat reeds bewys het dat hulle gekwalifiseerd is, deur staatsburokrasie teruggehou.
“Dit is eerstens onregverdig teenoor die betrokke individue, maar dit is heel duidelik ook skadelik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie,” sê hy.
Pretorius voeg by dat ʼn rooiseëlsertifikaat veel meer as ʼn blote dokument is.
“Vir ʼn ambagsman is dit die sleutel tot indiensneming, ʼn beter inkomste en verdere loopbaanontwikkeling. Elke dag se vertraging beteken dat mense se toekoms onnodig op ys geplaas word.
“Ons kan nie bekostig dat gekwalifiseerde ambagslui werksgeleenthede verloor of selfs die land moet verlaat bloot omdat die staat nie sy mees basiese administratiewe pligte nakom nie,” verduidelik hy.
Solidariteit sê hy hoop dat die hofproses nie net verligting vir die betrokke lede sal bring nie, maar ook tot blywende verbeterings aan die sertifiseringsproses sal lei sodat toekomstige ambagslui nie dieselfde onreg hoef te verduur nie.
Sien Solidariteit se hofstukke hier en hier aangeheg.









