Waar die 'beat' jou vasvat en nie weer los nie, daar is Drommedaris
OppiDam Musiekfees keer 2 en 3 Oktober terug na die oewer van Vygeboomdam, waar ’n sterk line-up en eg Suid-Afrikaanse fees-atmosfeer wag. Drommedaris is deel van die program en sal albei dae op die verhoog wees.

Meeste van ons het dit al gesien. Daardie een persoon op ’n dansvloer wat lyk of hulle na ’n heeltemal ander song luister as die res. Die musiek is daar, die ritme is meer duidelik as ’n tiener se rooi hakskeentjies, en tog gaan dit hulle heeltemal verby. Die beat beweeg deur die vertrek, deur almal, maar nie deur hulle nie. Dit is nie ’n gebrek aan entoesiasme nie, dit is iets anders. Dis soos ’n loskoppeling tussen klank en instink.
Hierdie prentjie het al dikwels vir groot vermaak gesorg, veral waar Afrikaanse-humor ingeweef is, en ja, soms ook vir die een wat langs hulle moet koers hou, en hoop vir die beste, ’n bietjie onnodige skaamte. Onnodig, want of jy nou die beat vang of nie, almal het die reg om hulle oor te gee aan klank, en elke nou en dan kom jy op musiek af wat geen ruimte laat vir daardie tipe verwarring nie, musiek wat jou voete vat en nie los nie. Klank wat maak dat selfs die ritmeloses in pas kom! So is die klank van Drommedaris. Boy oh boy!
Drommedaris is ’n pa-en-dogter-duo, Hans Drommedaris en Alika du Plessis, wat al vir jare saam werk en hul eie ding doen. Hulle speel nie soos ’n gewone band nie. Dis dromme, ritme en tydsberekening. Die laaste week of wat is Alika se pragtige stem boonop die een wat domineer oor my hi-fi, want hoe skryf ‘n mens dan nou oor iemand as jy hulle nie behoorlik deurluister en deurdans het nie?
Deesdae staan hulle nie meer net as ’n duo op die verhoog nie. Sedert 2025 is Alika se metgesel, Dewan Venables, oftewel Draadkas, ook deel van Drommedaris, waar hy met djembe, sang en klank bydra en die vertoning verder afrond.
Wat mens ook moet onthou, is dat hierdie nie ’n oornag-storie is nie. Hans is van kleins af in die musiekbedryf en het oor jare se opleiding en optredes ’n stewige fondament opgebou. Daardie ervaring sit in hoe die vertoning saamgestel en aangebied word.
Alika het van baie jonk af begin speel en het oor tyd haar eie styl ontwikkel, nie net agter die dromme nie, maar ook met haar stem en ander instrumente. Daardie kombinasie van ervaring en vars energie gee aan Drommedaris ’n unieke balans.
Dat bloed dikker is as water, en dat die appel nie ver val van die boom nie, is waaragtig die regte idiome vir Drommedaris. Daar is ‘n tasbare gevoel van eenheid en verstaan en natuurlike vloei tussen note en aksie, dis sinkronisasie op sy beste! Drommedaris gebruik nie net ’n standaard stel nie, en dit is juis waar die verskil inkom. Wat begin het met eenvoudige, geïmproviseerde dromme, het oor tyd ontwikkel in ’n meer gesofistikeerde, mobiele opstelling wat hulle toelaat om hul vertoning op verskillende verhoë aan te bied.
Party van die klanke kom van goed wat jy nie noodwendig met musiek sou assosieer nie, maar dit werk! Daar is invloede van elektroniese musiek, en omdat dit live gespeel word is dit soos ‘n toneelstuk wat keer-op-keer op die planke gebring word. Jy sien wat aangaan en kan nie besluit of dit die kyk of die hoor is wat jou hoendervel gee nie. Hierdie is waaragtig ‘n show en nie een wat nagemaak kan word nie.
Sedert hul deurbraak tydens die inperking, toe hul eerste video’s aandag begin trek het, het dinge vir Drommedaris momentum gekry. In 2023 het hulle by die Afri-Indie Awards die titel “Best live Duo” ingepalm, en in 2025 weer “Best EDM English” met Focus on me baby.

Indien jy ritme in jou het, maak seker dat jy die tweede en derde Oktober by die OppiDam Musiekfees is.
Drommedaris tree die Vrydag en die Saterdag op langs die prentjiemooi Vygeboomdam. (En as jy die ou is met die twee linkervoete? Wel, hierdie is jou geleentheid om bos te gaan sonder dat enigeen ‘n wenkbrou lig, want hierdie beat is die real mccoy!)
Maak dit ’n naweek om te onthou by OppiDam.
Bespreek vroeg en moenie uitmis nie.
📞 WhatsApp: 066 327 1068
✉ Email: bookings@oppidam.co.za
🌐 Website: https://www.oppidam.co.za/
Africa InTouch News sal lesers op hoogte hou soos nog kunstenaars bevestig word, en oor die komende maande sal ons die program bekendstel soos dit vorm aanneem.
