Zoid Spawn bring ma en seun saam op verhoog
Vir Zoid-aanhangers is daar bekende musiek, maar binne ’n produksie waarin Zoid se werk deel word van iets groter; met klavier, visuele kuns en ’n ma en seun wat saam iets nuuts op die verhoog aanpak.

Karen Zoid betree vanjaar saam met haar seun, Ben Francis, die verhoog in Zoid Spawn, ’n nuwe teaterproduksie waarin musiek, visuele kuns en teater op ’n ongewone manier bymekaarkom.
Die produksie is deur Zoid en Francis geskep, met Anton Eloff op klavier. Zoid se musiek vorm deel van die vertoning, terwyl Eloff se klavierspel en Francis se visuele werk gebruik word om ’n groter teaterervaring rondom die musiek te skep.
Die verhouding tussen ma en seun loop soos ’n draad deur Zoid Spawn. Die produksie kyk na familiebande, musiek, humor en spanwerk, maar ook na iets heel eenvoudigs waarmee niemand eintlik kan stry nie: dat die lewe kosbaar én broos is.
Dan is daar die speletjies... Zoid Spawn leen doelbewus uit die wêreld van videospeletjies, waar Mario meer as een lewe het en ’n speler in Call of Duty weer kan “spawn”. In die werklike lewe werk dinge natuurlik nie heeltemal so nie, en juis dié teenstelling vorm deel van die gedagte agter die produksie.

Die vertoning is op 25 en 26 September om 19:30 by NG Kerk Melkbosstrand te sien en vorm deel van die Melkbos Ateljee Art/Film Festival 2026. Daarna skuif Zoid Spawn op 5 Oktober na die Toyota Stellenbosch Woordfees, voordat die produksie in Oktober by Pieter Toerien se teater by Montecasino in Johannesburg te sien is.
Kaapse gehore kry in November weer ’n geleentheid wanneer Zoid Spawn van 17 tot 21 November by Theatre on the Bay in Kampsbaai aangebied word. Die vertonings duur ongeveer 100 tot 110 minute, met ’n pouse, en geen kinders onder 13 word toegelaat nie.
Vir Zoid-aanhangers is daar dus bekende musiek, maar hierdie keer binne ’n produksie waarin haar werk deel word van iets groter; met klavier, visuele kuns en ’n ma en seun wat saam iets nuuts op die verhoog aanpak.













